‘Animalia’ ‘n groot sukses

‘n Plaaslike skool het behoorlik beïndruk met hul uitsonderlike konsert.
Octavia Tsibes
Evany van Wyk

Die St. George’s Diocesan-skool in Windhoek het onlangs in die Nasionale Teater van Namibië ‘n uitstekende konsert gehou.

Dit is oor drie dae aangebied en was deel van die vieringe van die skool wat op 8 Julie 100 jaar oud geword het.

Trotse ouers en familie van die toneelspelers het die teater volgepak. Musiek, die skaterlag van mense en die feestelikheid in die lug, was bewyse van die konsert se sukses.

Die leerlinge in die rolverdeling, asook hul regisseur Sven-Eric Müller en musiekregisseur Jolanda Amoraal het duidelik baie hard gewerk om dié meesterstuk op die planke te bring.

My Zone het agter die skerms ‘n draai gaan maak waar groot opgewondenheid geheers het. Die kleintjies se glimlaggies was aansteeklik en die ouers se reuse-ondersteuning duidelik.

Darlene Daniel, ‘n graad 11-leerling en een van die dansers, het vir The Zone gesê dit was een van die lekkerste leerervaringe ooit. “Ek sal dit definitief weer wil doen.”

Die geleentheid is geopen deur biskop Luke Patel wat almal in die regte gees gekry het met ‘n skriflesing en gebed. Die verrigtinge het om 18:30 begin, met die leerlinge van die primêre en preprimêre skool wat die gehoor met hulle oulike optredes bekoor het. Hulle het verskeie dierekarakters van die Franse komponis Camille Saint- Saëns se Die Karnaval van die Diere vertolk.

Die skool het vir twee maande gerepeteer. “Die grade het gereelde musiekperiodes by die skool en ons het alles in daardie periodes gedoen,” het sê Amoraal gesê. van die voorbereiding van die konsert. “Alles het baie goed uitgewerk omdat daar twee skoolkore is, een vir die laer grade en een vir die kollege.”

Die kollege het lewe gegee aan die diere wat vroeër deur die kleintjies voorgestel is in ‘n storie oor aanvaarding, vriendskap en liefde.

Die stukke is deur Müller geskryf. “Nadat ek gesien het met watter groot talente ek gaan werk, was die inspirasie groot,” het hy gesê.

Hy was veral beïndruk met die dinosourus wat die leerrlinge self gebou het.

“Dit was ongelooflik om saam met die kinders te werk. Hulle het hope talent en spangees.”

Vir Gamena Nuule,’n graad 10-leerling wat die rol van ‘n leeu vertolk het, was die danse die hoogtepunt. “Om saam met Sven-Eric te werk was baie lekker. Hy is ‘n baie goeie leermeester,” meen Gamena.

Fiona Lee, Neo Chase en Ndapanda Amadhila, wat die hoofrolle vertolk het, het die gehoor behoorlik aan hul lippe laat hang met die pragtige sangstukke. Van die Disney-flieks The Lion King en Frozen tot Katy Perry se “Roar” was treffers, met die gehoor wat almal saamgesing het.

Anna Erastus, een van die gehoorlede, het gesê dit was ‘n uitstekende konsert.

Cahrmonix Coetzee, nog ‘n konsertganger, het gesê: “Ek het nog nooit so baie talent op een verhoog gesien nie.”

Dit was die eerste keer dat die leerlinge van die laer en hoër grade op die verhoog saamgespan het.

Met soveel talent en harde werk sal daar sekerlik menigte kunstenaars gekweek word by St Georges.