Beste studente word vereer

Privaatskool Karibib gaan binnekort weer hul leerlinge beloof vir hul harde werk in die vorige skooljaar.
JUSTISIA SHIPENA
Leandrea Louw

Privaatskool Karibib gaan op 23 Januarie hul jaarlikse sport-, kultuur- en akademiese prysuitdeling hou. Dié jaar se tema is "Moving Mountains With Your Dreams".

Mnr. Vincent Hockey, die skoolhoof, vertel omtrent 220 leerlinge gaan pryse in al drie die bogenoemde kategorieë ontvang.

Leerlinge sal verskeie pryse ontvang en die kategorieë sluit onder andere duxleerling, die hoërskool- en laerskool se skoolhooftoekenning, sportman en -vrou vir die laerskool en hoërskool, Deloitte se mees diverse leerling, die toppresteerders in die verskeie grade en -vakke en leerlinge wat die beste vordering getoon het in.

Verder word goeie akademiese prestasies (70% en hoër), uitstaande akademiese prestasies in ’n vak (80% en hoër), toekennings vir die mees toegewyde leerlinge en die toekenning vir leerlinge wat die hoogste persentasies in wiskunde ontvang het ook toegeken.

Hockey vertel dit is die eerste keer in baie jare wat die skool ’n gesamentlike prysuitdeling sal hê. “In die verlede is die laerskool en hoërskool se prysuitdelings apart gehou.”

Privaatskool Karibib het sowat 304 leerlinge vanaf graad 0 tot 12, waarvan 161 in die laerskool is en 143 in die hoërskool. 79 Leerlinge is in die koshuis woonagtig. “Ons leerlinge kom van regoor die SADC met die meeste van die buitelanders wat van Angola afkomstig is,” voeg Hockey by.

Die personeellede is ongeveer 39, waarvan 20 onderwysers is, twee administratiewe personeel, vyftien ondersteunende personeellede en twee vrywilliges is.

Die onderhoof van die laerskool is mnr. Mclyn Kasale en die onderhoof vir die hoërskool is mnr. Johannes Beukes.