Capricorn se skolenetbal-liga amptelik geopen

Die Capricorn-groep het weer eens ? groot bydrae tot die gemeenskap gemaak deur die skolenetbal-liga te borg.
ELIZABETH JOSEPH
Op 12 April is die Capricorn Skolenetbal-liga by die United Sportklub in Windhoek bekend gestel.

Die liga, vroeër bekend as die Bank Windhoek Skolenetbal-liga, het hierdie jaar ? paar veranderinge ondergaan. Meer ouderdomsgroepe word geakkommodeer en dit gaan met die Superliga gekombineer word. Die liga dra die amptelike goedkeuring van die Namibië Skolesportunie (NSSU) weg.

Me. Marlize Horn, die Capricorn-groep se uitvoerende beampte van handelsmerke en korporatiewe sake, het gesê: “Ons fokus is om volhoubare geleenthede te skep in die streke en gemeenskappe waarin hulle handel”.

Ook teenwoordig by die bekendstelling was mnr. Solly Duiker, die nasionale

koördineerder van die NSSU. Hy het die Capricorn-groep bedank vir hul bydrae tot die ontwikkeling van skolesport en veral vrouesport. Die liga sluit eerste spanne en die ouderdomsgroepe o.12, o.14, o.15 en o.17 in.

“Ons wil graag ons opregte dank uitspreek teenoor me. Marlize Horn en die Capricorn-groep vir hul vrygewige borgskap,” het mev. Lizel Garbers, die voorsiter van die liga, gesê. Sy het ook almal bedank wat die belangrikheid van netbal in meisies se lewe besef het en hoe dit help om jongmense se karakter te vorm. ‘n Totaal van 17 skole en 58 spanne tussen die ouderdomsgroepe van o.12 tot o.19 het vir die liga ingeskryf. Die wedstryde sal op 24 Mei vanjaar afskop en op 24 Julie met die nasionale finaal afsluit. Minstens 215 wedstryde sal op verkillende dorpe in die land gespeel word.

Die wenspan gaan wegstap met ? spoggerige trofee en spogregte. Alle deelnemers sal medaljes ontvang.