Die Koedoe en Leeu ontmoet weer

Meer as 5 000 mense het opgeruk om te sien hoe Windhoek Hoërskool en Windhoek Gimnasium mekaar die stryd aansê.
Michelline Nawatises
Mariselle Stofberg en Michelline Nawatises

Die gewilde jaarlikse interhoër tussen Windhoek Gimnasium Privaatskool en Windhoek Hoërskool (WHS) het op 15 Mei afgeskop.

Tydens die interhoër ding die twee skole mee in kultuur en sport wat wissel van skaak tot driekamp. Die hoogtepunt is die rugbywedstryd tussen die eerste rugbyspanne waarmee die interhoër afgesluit word. Die Windhoek Gimnasium Leeus het met 28-5 oor die WHS Koedoebulle geseëvier.

WHS was die gasheer vir vanjaar se interhoër.

Groot kameraadskap en sportmangees was duidelik tussen die twee skole, met leerlinge wat ook die geleentheid gebruik het om bande te smee en nuwe vriende te maak.

Michelle Mushonga, 'n leerling van Windhoek Gimnasium, het gesê dis ‘n uitstekende geleentheid om ander beter te leer ken. "Hierdie interhoër help om van die spanning te verwyder wat tussen die skole bestaan." Volgens Mushonga bevorder dit ook gesonde mededinging tussen die skole.

Mnr. Jaco Engels, die afrigter van Gimnasium se eerste rugbyspan, het gesê die geleentheid bied 'n goeie platform vir leerlinge en dat die interhoër “nie gaan oor wen nie, maar oor verhoudings te bou”.

Mnr. Hawie Engels, WHS se hoof, het gesê: "Ons wil hê dat leerlinge van albei skole die gebeure op en van die veld af geniet.” Hy het gesê WHS sien elke jaar baie na die geleentheid uit, aangesien meer as 5 000 mense die leerlinge tydens die geleentheid ondersteun waar hul talente vertoon én ontwikkel word.