Die leerplan wat deure oopskop

Mariselle Stofberg
Wanya Eloff-Rees



“Ek sou in die buiteland kon werk, maar aangesien dit my nie beskore was nie, sorg ons dat ons die geleenthede vir ons skool se kinders kan skep sodat hulle hul horisonne kan verbreed.”

Só sê mnr. Kobus Espach, hoof van Windhoek Afrikaanse Privaatskool in die hoofstad, oor die moontlikhede wat die Independent Examination Board (IEB) se leerplan en eksamens leerlinge in Suid-Afrika en Namibië bied.

Volgens dié onafhanklike Suid-Afrikaanse agentskap se webwerf verskaf hulle opleiding en evalueringsinstrumente wat gehalte onderwys verseker.

Meneer Espach sê IEB-leerplanne word só ontwerp om kinders te leer om kreatief te dink en hul probleemoplossingvaardighede te verbeter.

“Die kwalifikasie wat ’n graad 12-leerling verwerf, is ’n internasionale kwalifikasie wat leerlinge toelaat om by enige universiteit te gaan studeer. Die eksamen kan in Afrikaans of Engels afgelê word. Die IEB-leerplan word baie verryk en dwing leerlinge om voortdurend te werk – dus word ’n gewoonte gekweek. Leerlinge word gedwing om daagliks hard te werk,” sê hy.

Volgens die agentskap kry leerlinge die geleentheid om onderwerpe te ontdek deur aktiwiteite, die aanmoediging van kritieke denke en debatvoering.

’n IEB-eksamen is op wêreldstandaard en is volgens hul webwerf gelykstaande aan die Verenigde Koninkryk se AS Levels. Die agentskap is geakkrediteer deur Umalusi, ’n owerheid in Suid-Afrika wat gehalte verseker.

Verlede jaar het IEB-leerlinge ’n 98,8% slaagsyfer behaal. Volgens Espach is dit deels te danke aan die feit dat onderwysers ure aan die voorbereiding van leerlinge bestee.

“Aangesien die skole wat IEB-eksamens skryf meestal privaat skole is, word aanvaar almal stap die ekstra myl om te verseker elke leerling presteer na die beste van sy of haar vermoëns. Leerlinge word nie toegelaat om take of opdragte onvoltooid in te handig nie en dit verseker leerlinge kry die nodige punte wat hulle verdien. Onderwysers is toegewyd en voorbereid op hul klasse en afwesighede word tot ’n minimum beperk.”

Espach sê die IEB fokus baie op die toepassing van inhoud “en om leerlinge se denkvermoë te verbeter, wat beteken die uitvalsyfers op universiteit is baie kleiner in vergelyking met leerlinge in ander stelsels”.

Verlede jaar het Republikein berig die Namibiese raad vir eksamens, evaluerings en sertifiserings (NEACB) het IEB-skole toestemming gegee om tot die einde van 2021 met die huidige IEB-leerplan voort te gaan. Regsbeperkings in SA het veroorsaak dat die minister van basiese onderwys in SA in 2016 die aanbieding van IEB-eksamens in die buiteland moes inkort.

Die IEB, in samewerking met skole, het intussen reeds ’n nuwe leerplan opgestel wat aan die einde van die termyn aan die ministerie vir goedkeuring voorgelê sal word.

Volgens Espach sal skole dan aan die einde van 2022 volgens die nuwe leerplan geëvalueer word.

“Die IEB sal steeds vir die opstel en nasien van vraestelle, moderering en opleiding verantwoordelik wees,” sê Espach.