Dinamiet kom in klein pakkies

Die eerste APS-kriekettoernooi is in die hoofstad gehou.
Michelline Nawatises
Michelline Nawatises





‘n Plaaslike onderneming, Africa Personnel Services (APS), het onlangs ‘n kriekettoernooi vir o.12-spelers in Windhoek gehou waartydens die Dynamite Ducks koning gekraai het.

Die Blasting Birds-toernooi is van Donderdag tot Sondag by die Wanderers-krieketveld aangebied. Ses spanne het meegeding, naamlik Rowdy Roosters, Tenatious Turkeys, Iron Owls, Blazing Blackbirds en Dynamite Ducks.

Janko Engelbrecht van Dynamite Ducks was verheug oor sy span se oorwinning. "Ek is baie gelukkig, aangesien ek my kolfvaardighede verbeter het," het hy gesê. Nog 'n speler, Dan Brassel, het gesê dit was 'n “stewige wedstryd”, maar hulle het deurgedruk danksy hul sterk sportmangees. "Die Iron Owls was sterk in kolfwerk en dit het dit moeilik gemaak om ‘n deurbraak te maak,” het hy gesê.



Die kaptein van Dynamite Ducks, Stefan du Plessis, het gesê die span het aansienlik verbeter en uit hul foute geleer. "Een voordeel wat ons gehad het, was ons spanlede wat al vroeër teen mekaar gespeel het. Dit het ons in staat gestel om aan ons sterk punte te werk," het hy gesê en bygevoeg dat sy boultaktiek geweldig verbeter het.

Lede van die Namibiese senior nasionale krieketspan was ook teenwoordig by die toernooi. Volgens Karl Birkenstock is dié tipe toernooie van groot belang. "Blootstelling is belangrik, jy verbeter baie en sulke toernooie strek tot groot voordeel vir ontwikkeling." Nog 'n lid, Jan-Izak de Villiers, het gesê die jong spelers het op dié manier nog meer kennis oor die spel gekry. "Hulle is nog jonk en het nog baie om te leer, maar hulle het uitstekende boul- en kolfwerk gedoen.”

Een van die deelnemers aan die toernooi, Drikus Martins, het 'n maand se gratis afrigting by die APS-akademie gewen nadat hy die beste gevaar het in ‘n vraag-en-antwoordsessie oor ses senior Namibiese krieketlede en hul spelposisies.

Die organiseerder van die toernooi, Annemarie de Villiers, het gesê hul plan is om die toernooi jaarliks aan te bied. Vanjaar se borge was APS, die XCO0groep , BMG (Bearing Man Group) en Ice Queen.

PRETTE FEITE VIR TOERNOOI

*Kiera Schoemann was die enigste meisiedeelnemer

*Die kolwer van die toernooi was Ben Brassel

*Die bouler van die toernooi was Brian Edwards

*Twee Brassel-broers het teen mekaar gespeel

*Die mees veelsydige speler was Dan Brassel

*Iron Owls het die tweede plek gewen