DUITSLAND – hier kom ek …

Saterdag, 16 September is D-dag vir dieGoethe-InstitutNamibia, se nasionale Praatkompetisie, gehou te Windhoek. Meer as 100 leerders, (verteenwoordigend uit 26 skole) wat Duits, as ‘n vreemde taal-vak het, kom byeen om te wys waar Dawid die wortels begrawe het. Die opwinding was groot! Leerders word ingedeel in baie spesifieke kategorieë, naamlik die graad waarin hul is en hoe lank hulle reeds Duits praat. Vir my was die Pers groep vir Graad 11-leerders beskore.
Alle goeie dinge neem tyd, en terwyl ons wag vir die eksamens, word ons in kleiner groepies van vier ingedeel, wat saam ‘n aktiwiteitsbaan deurloop. Kort voor lank is die verskeie leerders, met “vlindermaag-sindroom” dan na hul eksamenlokale geroep, waar onderwerpe uit ‘n hoed getrek word. Ons word 10 minute voorbereidingstyd gegun, waarna toesprake gelewer word, ‘n vraagsessie wat volg en binne 15 minute is eksamen en evaluering voltooi. Die harde werk is gedoen en nou is dit net wag tot laatmiddag, wanneer die groot oomblik aanbreek om wenners aan te kondig. Die kompetisie was uiters straf en elkeen se Duitse voetjie was bitter min uit plek.
Die uitslag was verbaasde lekkerte, want nooit in my wildste drome het ek gedink dat hulle my naam gaan lees vir die lourierkrans nie.
Onder luide toejuiging ontvang ek ‘n klein vliegtuigie, van die Duitse Ambassadeur, wat beteken 2018 het ek vlerke na Duitsland, waar ek vir 30 daggies by verskillende families - gratis en verniet - gaan kuier en my Duits opskerp, natuurlik.
Baie dankie vir hierdie uitsonderlike geleentheid en voorreg om Duitsland te gaan verken op hierdie besondere manier. Ek is voorwaar geseënd. Danke schön…