Elke kind maak saak

Die onderwysers van Donatus Skool laat elke leerling spesiaal en geliefd laat voel, veral dié wat uit moeilike omstandighede kom.
Helene Bam
Octavia Tsibes

Die Donatus Skool (DSO) op Otjiwarongo is in verskeie opsigte spesiaal, en die liefde en passie wat die onderwysers vir hul leerlinge se ontwikkeling het, staan beslis uit.

Die skool bied verskeie vakke aan om hul leerlinge se horisonne te verbreed en praktiese vaardighede te leer wat hulle ná skool kan gebruik. Visuele kunste en rekenaarstudies is van die vakke wat op leerlinge se ontwikkeling gemik is.

Die skool het twee toegeruste rekenaarstudieklaskamers en leerlinge presteer uitsonderlik in die vakgebied.

Die slaagsyfer van die graad 10-leerlinge wat rekenaarstudies neem, is 72%. Die onderwysers is baie trots op die prestasie en meen dit is ’n goeie aanduiding van die skool se vooruitgang en ontwikkeling.

Volgens die skoolhoof, mnr. Udo Behnke, het leerlinge en onderwysers 'n goeie verhouding, en dit dra tot die positiewe ontwikkeling van leerlinge by. "Ons is geseënd met 'n pragtige omgewing en geboue. 'n Positiewe, vriendelike en ondersteunende atmosfeer heers tussen almal. Leerlinge is lief vir hierdie skool."

Behnke sê voorts baie leerlinge vorder goed in hul skoolwerk en hy is oortuig hulle sal ’n positiewe impak op hul gemeenskappe en huishoudings hê.

"Almal hier voel en is spesiaal.

“Soos enige skoolhoof wens ek my skool behaal 'n 100%-slaagsyfer en ek sal baie gelukkig wees om eendag daardie doelwit te bereik. Ek wil ook graag betrokke wees by die skep van ’n breër leerkultuur.

“Ons glo daar is leerlinge wat werklik goeie leiers van die land kan word, maar hulle staar baie uitdagings in die gesig. Tienerswangerskappe, dwelmmisbruik en huishoudelike geweld is kwessies wat ons as skool voortdurend probeer bekamp deur middel van persoonlike betrokkenheid in ons leerlinge se lewe.

Ek hoop hierdie probleme sal in die toekoms minder algemeen word,” sê hy.

“Ek verlaat elke dag die skool met 'n lied in my hart. Dit is altyd belangrik om positief te bly, selfs in moeilike werksomstandighede.”

Behnke sê die grootste uitdaging wat die skool in die gesig staar, is ’n gebrek aan motivering en ouerbetrokkenheid.

“Leerlinge word nie altyd by die huis gemotiveer om na die beste van hul vermoëns te presteer nie.

Ons onderwysers probeer dikwels hul bes om ook ‘ouers’ vir hierdie leerlinge te wees, deur in die klaskamer vir hulle morele waardes te leer.”