Gobabis Gimnasium is idioomkampioene!

Daar is meer as 8 000 idiome en uitdrukkings in die Afrikaanse taal, wat die leerlinge gedurende die kompetisie moes ken en gebruik.
Michelline Nawatises
Michelline Nawatises



Die ATKV-idiomekompetisie is deur dr. Dolores Wolfgaardt en Kleintjie Muller, dosente aan die Universiteit van Namibië (Unam) van stapel gestuur.

Hulle het die kompetisie deur middel van die ATKV se Windhoek-tak, in samewerking met die nasionale uitsaaier (NBC) bekend gestel. Skole is toegelaat om spanne van twee leerlinge per skool in te skryf.

Die spanne sou mekaar dan tydens 'n deurlopende radioprogram uitdaag, wat deur Hartklop FM aangebied is.

Die program is elke Woensdagmiddag uitgesaai en het tot die middel van Oktober voortgeduur.

Karlien Visser en WP Oosthuizen, leerlinge aan Gobabis Gimnasium, is verlede week as wenners van vanjaar se idiomekompetisie aangewys.

Bank Windhoek was die hoofborg van die kompetisie.

Die gedugte Gobabis Gimnasium-span het in die finale rondte teen Elnatan Private Skool, verteenwoordig deur die tweelingsusters Elsa en Anri Visser, te staan gekom.

Gobabis Gimnasium het die trofee en kontantpryse, wat deur Bank Windhoek geborg is, gewen en naaswenners het ook kontantpryse ontvang.

Visser het in trane uitgebars toe sy hoor het haar skool is die wenners.

Die graad 12-leerling neem afskeid van die kompetisie en sal voorts op verdere studies fokus.

Sy het gesê die kompetisie het baie vir haar beteken en sy is trots om jare lank deel daarvan te kon wees.

Leerlinge van ander deelnemende skole het mekaar in verskillende kategorieë uitgedaag, wat insluit die voltooiing van Afrikaanse idiome, die skep van nuwe idiome met sleutelwoorde en 'n vinnige vuur-afdeling om die betekenis van idiome te gee.

Bank Windhoek se koördineerder van borgskappe en geleenthede, Suzette Januarie, het gesê: "Baie geluk aan die vier leerlinge wat so ver gekom het. Jul skole behoort baie trots op jul prestasies te wees. Ons wil graag alle deelnemers en wenners aanmoedig om gebruik te maak van die idiome wat hulle geleer het en om aan te hou om prentjies met hul woorde te verf."