Goeie kuierwenke vir die feestyd

Tunohole Mungoba
Michelline Nawatises

Tieners is dikwels veral oor feestye weens die verkeerde redes in die nuus: Ongelukke, misdaad, verdwyning en selfs die dood.

Moenie deel van dié statistiek word nie. Lees gerus die volgende wenke en beskerm jouself.

1. Gebruik die Buddy-stelsel

Hoe meer siele, hoe meer vreugde (en veiligheid). Gaan saam met 'n groep mense wat jy ken, na partytjies toe. Dit help jou om beter besluite te neem. Oorweeg die Buddy-stelsel waarmee iemand altyd ‘n oog oor jou hou en seker maak dat jy veilig by die huis kom.

2. Aktiveer die noodmodus op jou foon

As jy onveilig voel of probleme ondervind, kan jou foon jou help. Jy wil byvoorbeeld nog kuier, maar jou buddy is huis toe. Jy beland in ‘n moeilike situasie. Gebruik die noodmodus om 'n boodskap aan ses vriende te stuur, wat sê: "Kom haal my." GPS-koördinate verskaf jou presiese ligging.

3. Vertrou nét jou instink

Jy is tussen vriende en weg van jou ouers. Alkohol en mense met slegte bedoelings wag om elke draai. Alkohol het ‘n reuse-impak op jou oordeelsvermoë. As jy dus daardie een drankie te veel in het, lyk almal pragtig en perfek – want jou oordeel het jou verlaat. Meneer en Mejuffrou Asemrowend lyk en klink dalk soos jou droompersoon, maar wees versigtig – hulle het dalk duister planne. As jy in 'n situasie is wat onveilig voel, kom so vinnig as moontlik daar weg. Iets waaroor baie slagoffers hulself verkwalik, is dat hulle nie hul instink vertrou het nie.

4. Hou ‘n valkoog oor jou drankie

Moenie jou drankie uit die oog laat nie. Vat dit selfs saam badkamer toe. Dit klink dalk grillerig, maar liewerig grillerig en veilig as om wakker te word ná ‘n blackout en nie te weet waar jy is of wat jy gedoen het nie. Verkragtingdwelms is oral. Wees wakker.

5. Pasop vir gratis drankies

Baie keer is mense daarop uit om meisies doelbewus dronk te maak sodat hulle seksueel misbruik kan word. Wees dus versigtig vir iemand wat die heeltyd gratis drankies aandra. Natuurlik is daar die opregte gentlemen wat geen bydoelings daarmee het nie. Maar ‘n ware gentleman sal nooit só baie drank aandra dat ‘n meisie dronk raak nie.

6. Eet

Om op 'n leë maag te drink, veroorsaak 'n nagmerrie vir jou liggaam, veral jou kop. Eet genoeg voordat jy na 'n partytjie of kuierplek toe gaan. Neem 'n bottel water saam om jou gehidreer te hou, aangesien alkohol diureties is en uitskeiding van urine versnel. Dit kan 'n nare babelas veroorsaak wat jou die volgende dag vir baie lank gaan teister.

Die laaste sê:

Die beste raad wanneer jy na 'n partytjie of kuierplek toe gaan: Hou kop, pas op vir alkohol en vertrou jou instink.

Geseënde Kersfees, bly veilig en geniet die feestyd!