Gr.10’s raak vuil op Rock Lodge

Kyla Horn
Halfelf op ‘n Maandagoggend, terwyl ander leerlinge nog eksamen skryf, klim 37 gr. 10-leerlinge, juf. Maryna Boltman en mnr. Henry McCarthy vier bussies op pad na ‘n leierskapkamp om hulself te ontdek. Die kamp het vier dae geduur en met die terugkeer was almal omtrent uitgeput
Met die aankoms op Rock Lodge is ons dadelik in vier kamers ingedeel. Daarna is ‘n lesing gegee deur mnr. Jerome, die hoofleier. Die aand is daar heerlik gesmul aan hoender net voordat ons in die veld ingestuur is op ‘n skattejag.Dit was donker, maar VET pret.
Op dag twee is almal reeds wakker... sommiges gaap lang gape terwyl ander hopeloos te veel energie het. Ontbyt word vinnig afgesluk - mieliepap, toebroodjies en appels - en lesing nommer twee word sommer kort op ontbyt se hakke afgehandel deur mnr. Jasuan. Nadat almal se kos afgesak het, klim ons die berg uit met bewerige bene, op pad na die meeste van ons se grootste vrees - abseil. Almal het darem oorleef, danksy mnr. Sheldon se wyse woorde: “ If you fall, you will die.”
Na middagete,wat uit heerlike macaroni en kaas bestaan, word die gevreesde hindernisbane aangepak. Deur die een span word daar gekruip, gebalanseer, geloop en hard geval op dié bane, terwyl die ander span vuil raak in die modder. Met die terugkeer na die kamp word die modder afgespoel, vuil klere word in bome gehang terwyl die leerlinge gaan swem. Deur die dag word nog lesings aangebied, terwyl daar heerlike aand ete voorberei word. Slaap word van die meisies weerhou, omdat sommiges bang is vir die donker en weier om die lig af te skakel...
Dag drie op Rock Lodge en almal haal nog asem. Ons begin die dag sommer met ‘n lesing deur juffrou Justine. Na ontbyt word ‘n kort entjie afgelê om by die volgende hindernisbaan te kom. Ons word in vier groepe verdeel om die vier dele van die hindernisbaan te voltooi. Hier leer ons om mekaar te vertrou met jou lewe, letterlik, asook hoe om te kommunikeer en opdragte uit te voer. Nog ‘n hindernisbaan is na die laasgenoemde een afgehandel, waar vrese oorkom is en vertroue gewen is. Na middagete is ‘n vriendelike rondte paintball gespeel. Kneusplekke is opgedoen en velle is rou geskaaf, maar speel sal ons speel.
Teen skemer het ons nog ‘n berg uitgeklim, dié keer was die berg net groter en het ons die ware identiteit van Rock Lodge leer ken (met die klem op “rock”). Sommiges het ‘n stukkie grond op die berg gekoop toe hulle oor die los klippe val omdat hulle te flink oor die klippe gespring het. ‘n Dooie kees het ons op die kruin van die berg gegroet, maar almal het darem volhard tot die einde. Die uitsig vanaf die bergkruin was iets wat jy slegs in ‘n storieboek kan aanskou, met die grasvelde wat wyd voor jou uitstrek en die begin van Okahandja wat ver op die horison lê. Aandete was omtrent ‘n feesmaal, met rys met blokkiesvleis, slaai en die heerlikste gebakte poeding met tuisgemaakte vla.
Die 27ste Julie het 37gr.10-leerlinge met baie seer harte opgestaan en het ons die laaste lesing deur mev. Maggie ontvang. Ons het weereens die heerlikste ontbyt gehad. Om sowat 12:00 het ons met lang gesigte op die vier bussies teruggekeer na Swakopmund - maar met onvergeetlike herinneringe saam met onvergeetlike mense.




Ons, as die gr. 10’s van 2017, wil net graag van hierdie geleentheid gebruik maak om die volgende mense te bedank: mnr. Henry McCarthy en juf. Maryna Boltman vir die toesig en ondersteuning. Ons bedank ook vir Carlo’s Shuttles vir die vervoer... en laaste maar definitief nie die minste nie, mnr. Jerome, mnr. Jasuan en mnr. Sheldon vir die wonderlike lewenslesse, avonture en kos wat elke dag vir ons voorberei is. Dankie ook aan al die gr.10-leerlinge wat die kamp so lekker gemaak het. In die woorde van mnr. Sheldon: “Daai’snxa!”


DIE GRAAD 10’S SÊ:

Veldskool, 'n herinnering wat ek vir ewig met my sal saamdra. Dit was werklik een van die wonderlikste belewenisse, waar ek baie oor myself en my mede- gr.10's kon leer. ~Charlene Grobler ~


Met vriende, wat gou familie geword het, het ek die kamp vol vertroue, moed en baie gees aangepak. Ek beskryf die ervaring as "lekker", want daar is nie ‘n ander woord vir dít wat ek beleef het nie. Gedurende die paar dae het ek meer geleer oor leierskap - wat my baie gaan help in my graad 12-jaar wanneer ek graag ‘n prefek van Pro-Ed Akademie wil wees. Veldskool – ‘n hoogtepunt op my 2017-kalender. ~Anneke Burger ~

The leadership camp was an amazing opportunity for every single one of us to be placed in situations and challenges out of our comfort zones and then facing our fears. The leadership camp taught us to lead each other through helping and motivating one another. We learnt that, by working together and trusting each other, the mountain in front of us can turn into a tiny dune. Like mother Teresa said: “You can do things that I cannot do. I can do things that you cannot do. Together we can do great things.” ~Marnelle Noppe~

Die veldskool was 'n spesiale geleentheid waartydens ons graad 10's mekaar en onsself beter kon leer ken. Ons het soveel meer leierskapsvaardighede aangeleer. Baie dankie aan Rock Lodge, dit was uitspattige pret. Ek glo dat Pro-Ed nou vele leiers ryker geword het. ~Izelle Oosthuizen ~

Veldskool is ‘n geleentheid wat mense nader aan mekaar bring, gees bou en almal se persoonlikhede uitbeeld. Nuwe vriendskappe word gevorm en ‘n mens leer nogal baie van jouself. Kosbare herinneringe is wat ek graag saam my vat en ek sal definitief nie twee keer dink om weer op so ‘n kamp te gaan nie. ~Juanne Schlechter ~

It was a life changing experience which I will hold close to me for the rest of my life. ~Wiaan Louw~

Uit jou gemaksone, honger en doodmoeg, word vriendskappe op ‘n wonderlike wyse bevorder. Vrees vir hoogtes is getoets en geduld met spanmaats is op die spits gedryf. Die graad 10-Veldskool was voorwaar iets om te onthou. ~ Anja Coetzer ~

‘n Tyd wat ek altyd sal onthou met mense wat ek nooit sal vergeet nie. ~ Lee Esterhuysen ~

Beslis ‘n groot hoogtepunt in my lewe wat ek vir altyd sal onthou en saam met my sal dra. Ek het baie geleer -baie van myself, ander mense en meer van die Woord van God en sal die kennis wat ek opgedoen het, graag vorentoe in my lewe wil toepas. ~Chanelle Riekert~

I think that the leadership camp was a huge success, because we’ve all learned some things that we will take with us forever. I got to learn a lot about my friends and grade mates and we just bonded on a whole
new level. ~Zeekurua~