Graad 10’s se láng vakansie

Octavia Tsibes
Yanique Zimmer

Graad 10-leerlinge aan staatskole oraloor die land geniet ’n welverdiende vakansie ná ’n lang en moeilike eksamen.

Van vakansiewerk tot pogings om werkservaring op te doen, is meeste graad 10’s se voorland dié vakansie.

Ander leerlinge verkies weer om ná ’n lang skooljaar rustig tuis rond te hang of ’n goeie boek te geniet.

Nodeloos om te sê, is daar ’n hele lys aktiwiteite waaraan die uitgeputte leerlinge kan deelneem om die beste van hul vrye tyd te maak.

Leerlinge wat besluit het om verskillende loopbane te ontdek deur tyd by verskillende maatskappye deur te bring, was tot dusver nie spyt nie.

“Job shadowing het my beslis insig gegee in die wêreld van joernalistiek,” sê Angelina Norval, ’n leerling aan Windhoek Hoërskool, wat ook pas haar gaad 10-eksamen afgelê het.

Sy doen tans joernalistieke ervaring by Namibia Media Holdings op.

“Dit bied insig in hoe die werkswêreld werk en wat jy moet doen om jou droomwerk te kry. In die algemeen is dit baie opwindend,” sê sy.

Dié wat besluit het om tuis te bly, kry nou die geleentheid om daai goed te doen wat hulle nie tydens die eksamen kon doen nie.

Sommige leerlinge voel die ekstra lang vakansie gee hulle ’n gevoel van vryheid en onafhanklikheid – hulle kan óf tuisbly, vriende en familie besoek, of rondreis.

Jorene Hammerschlach, ook ’n leerling aan Windhoek Hoërskool wat dié eksamen afgelê het, is ‘n uitstekende voorbeeld van ’n leerling wat besluit het om op te vang met dit wat sy deur die jaar misgeloop het.

“My plan is om tuis te bly, verlore tyd by vriende in te haal en om in die huis te help,” sê sy.

Sy sê al het sy besluit om tuis te bly, is sy glad nie lui nie.

Sy bring graag haar kant om ander te help.

“Ek gaan ander leerlinge help wat tans eksamen skryf,” sê Jorene.

Baie leerlinge bring hul vakansie op dié manier deur.

Sommige doen ook vrywilligerwerk in ouetehuise of help hul ouers, broers en susters tuis.

Die afgelope eksamen het groot uitdagings vir die leerlinge ingehou – veral wat konsentrasie en fokus betref.

“Die raad wat ek vir enige toekomstige graad 10-leerling het, is om van die eerste skooldag af te leer, maak nie saak op watter manier nie, selfs al is dit net hersiening, want die werk is báie,” sê Jorene.

“Gee altyd 110%, al doen jy net ’n oefening. Moenie jouself te hard druk nie, sorg dat jy ’n balans handhaaf tussen leer, rus en jou sosiale lewe. Solank jy weet jy’t jou bes gedoen, is dit meer as genoeg. Selfs belangriker is om te onthou jy doen dit vir jouself en vir niemand anders nie.”

* Yanique Zimmer is ’n graad 10 leerling by Windhoek Hoërskool. Hy hoe van musiek en reis. Hy hou ook daarvan in sy vrye tyd te teken.