Groen en goud word 70

Hoërskool Dr. Lemmer vier fees
JUSTISIA SHIPENA
Mary-lee Beukes en Evany van Wyk

Die maand lange 70ste verjaardagfeesvieringe van Dr. Lemmer Hoërskool op Rehoboth het op 7 Junie met ‘n openingseremonie en jaarlikse pretloop afgeskop.

Me. Queeny Cloete, ‘n onderwyseres, het met The Zone gesels. “Die openingseremonie was ‘n goue oomblik in die geskiedenis van ons skool,” vertel sy met trots. Van die eregaste was plaaslike skoolhoofde, die dorpsraadslid me. Lorraine Christ, pastoor Gunter Swartz, ouers en oudleerlinge.

Volgens Cloete het die skool oor die jare ongelooflike prestasies in sport en akademie behaal. “Elke leerling het regtig oor die jare hulself bewys. Ons hoofdoel vir die volgende 70 jaar is om ons leerlinge goed voor te berei vir die lewe ná graad 12 sodat hulle hul plekke in die samelewing volwaardig kan volstaan.”

‘n Sokkie vir leerlinge is ná die pretloop aangebied en DJ Koloko het die kinders behoorlik op hul voete gehad. Op 8 Junie het die Markdag plaasgevind sowel as die Mnr. en Mej. Lemmerfees-proefnemingkompetisie later die aand. Die seremoniemeesters was Mej. Namibië 2017 en ‘n oudleerling van Hoërskool Dr Lemmer, Suné January en Anthony Frans.

‘n Evangelieaand is op 14 Junie in die skoolsaal gehou wat die gemeenskap in groot getalle bygewoon het om die Here te dank vir al sy wonderlike werke.

Die Rehoboth-gemeenskap is betrek by die Langarmdans op 21 Junie waar DJ Gysie met sy platejoggievernuf gewoeker het om mense op die dansvloer te kry.

Die eindronde van die Mnr. en Mej. Lemmerfees-kompetisie vind op 22 Junie in die skoolsaal plaas. Dit beloof om een van die hoogtepunte te wees met twee bekendes as die seremoniemeesters: Dean Smith (Wade in Suidooster) en Rasheeqah Kariem (Sheeca’s Closet).

Op 28 Junie vanaf 15:00 tot laatmiddag word ‘n aflos-atletiekbyeenkoms gehou.

‘n Parade met vlotte en ‘n gimnastrada deur Rehoboth se strate vind op 29 Junie plaas, waarna rugby- en netbalwedstryde by die skool se sportvelde gespeel sal word.

‘n Galadinee, ook op 29 Junie, by die skoolsaal sal die hoogtepunt van die hele fees wees. Alle oudleerlinge van die skool word uitgenooi om tafels te bespreek. “Die belangstelling wat ons tot dusver gekry het, is regtig hartroerend,” sê Cloete.

Die feesvieringe word op 30 Junie met ‘n dankdiens in die skoolsaal afgesluit. “Sonder die Here se goedheid en genade sou die afgelope 70 jaar nie moontlik gewees het nie,” sê Cloete. “Dit is lekker om deel te wees van die ryk en warm Dr. Lemmer- kultuur.”

Kiara Appolus, die onderhoofdogter, het gesê: “Dis ‘n voorreg om deel te wees van so ‘n groot mylpaal vir die skool.”

Volgens mnr. Ivan Britz, die skoolhoof, sal al die gebeure beter onderlinge verhoudinge tussen die personeel, leerlinge en buurskole skep.