Ken jou idiome

Twaalf spanne wat sewe skole verteenwoordig, het aan die eerste ronde van die Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging se Idiomestryd-kompetisie deelgeneem.
Mariselle Stofberg
Die Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging (ATKV) se Idiomestryd-kompetisie het vroeër vandeesmaand amptelik afgeskop.

Die skole wat deelneem, is Windhoek Afrikaanse Privaatskool, Edugate Academy, Privaatskool Elnatan, Danie Joubert Gekombineerde Skool, Kartsveld Academy, Deutsche Höhere Privatschule Windhoek (DHPS) en Gobabis Gimnasium.

Die kompetisie word deur Bank Windhoek geborg en die leerlinge sal mekaar in verskillende kategorieë uitdaag, wat onder meer die voltooiing van Afrikaanse frases, die vorm van idiome met sleutelwoorde en ’n spervuurafdeling insluit wat fokus op die betekenis van die idiome.

Vir die duur van die kompetisie sal die deelnemers dit Woensdae om 14:15 uitspook in ’n uitklopradioprogram wat deur NBC se Hartklop FM aangebied word tot en met die finale ronde, wat na verwagting middel-Oktober sal plaasvind.

Die ATKV se Idiomestryd-kompetisie is daarop gemik om die Afrikaanse taal te bevorder en leerlinge te help om vertroud met Afrikaanse uitdrukkings en idiome te raak.

"Ons het meer as 8 000 idiome en uitdrukkings in die Afrikaanse taal wat die leerlinge tydens die kompetisie moet onthou en reg moet gebruik," het me. Leoni van Rensburg, voorsitter van die ATKV, gesê.

“Alle tale moet bewaar word. Dit is elke Namibiese burger se verantwoordelikheid om te verseker dat hul taal van krag tot krag groei deur hul moedertaal veral onder die jeug te bevorder. Ons is seker dat die deelnemende skole se leerlinge voordeel sal trek uit hierdie inisiatief,” het Bank Windhoek se hoof van korporatiewe maatskaplike belegging, borgskap en geleenthede, me. Bronwyn Moody, gesê.

Die wenskool sal ’n wisseltrofee van Bank Windhoek en kontantpryse ontvang. Alle deelnemers sal ook 'n sertifikaat ontvang tydens die Pluimpie gala-aand wat later vanjaar aangebied word.

Vir meer inligting, kan skole Leoni van Rensburg by 081 127 1193 kontak of stuur 'n e-pos aan leonivr123@gmail.com.