Kerke help kleuters

Yanna Smith
Michelline Nawatises

Pullquote - “Ons moet hierdie kinders op elke moontlike manier help omdat hulle die toekomstige leiers is.” – Lufina Kamoso

Amos Meerkat (AMS) is ’n voorskoolse opleidingsprogram wat gemeenskappe in Namibië die geleentheid bied om Christelike voorskoolse onderrig te ontvang.

Amos is ’n niewinsgewende interkerklike organisasie en artikel 21-maatskappy met ’n roeping.

Die doel is nie om werk vir werkloses te skep nie, maar eerder om mense met waardevolle vaardighede toe te rus.

Die program het 'n Christelike leerplan en is in vennootskap met gemeenskapsgebaseerde organisasies en besighede onder die beskerming van Amos Namibia.

Die doel van Amos is verder om informele kleuterskole, wat nie ’n leerplan het nie of waarvan die leerplan nie geskik is nie, van so ’n leerplan te voorsien om te verseker leerlinge is skoolgereed.

Die leerplan is op Bybelse beginsels gebaseer.

Onderwysers aan AMS-skole moet twee opleidingsessies van ’n week elk bywoon, wat ses maande uit mekaar plaasvind.

Hier word hulle in die toepassing van die leerplan opgelei.

Amos Meerkat se hooffunksies is:

*Onderrig en opleiding

*Eenheid en versoening

*Hulpverlening en diens

Happy Kids-kleuterskool is op Goreangab geleë en bestaan uit vyf onderwysers.

Kinders van ses maande tot ses jaar word hier met behulp van die Amos Meerkat-leerplan onderrig.

Lufina Kamoso, een van dié skooltjie se onderwysers, het met My Zone gesels oor hoe die kleuterskool tot stand gekom het.

Sy sê die skool is in 2014 opgerig – aanvanklik sonder leerplan.

"Verlede jaar is ons (ek en my kollega) deur AMS opgelei. Dit was vir ons moeilik om die kinders sonder ’n leerplan te onderrig, maar noudat ons met die leerplan begin het, is dit baie makliker.”

Die rede vir die kleuterskool se naam is omdat Lufina glo die meeste van die kinders in die gemeenskap is meestal gelukkig.

Volgens die Meerkat-leerplan doen die kinders op Donderdae oefeninge en speel hulle buite voor die eerste les vir die dag begin.

Oor die skool se hantering van kinders wat stadiger as ander vorder, sê Lufina: “Ons vat dit liggies met hulle, ons is nie te hard op hulle nie. As ons agterkom ’n spesifieke kind is te stadig, vat ons dit rustig. Donderdae is die werk te veel in vergelyking met ander dae, aangesien die leerlinge baie op hierdie dag skryf, so as die stadige leerlinge nie betyds klaarmaak nie, vat ons babatreë met hulle tot hulle die gewenste vlak bereik.”

Wat dissipline betref, sê sy: “As die kinders dissiplinekwessies van die huis af saambring, raak dit moeilik om te hanteer.”

Ouers se samewerking in dié verband word dus gevra.