Klanke van sukses

James Jooste en Geo Kirsten, beide leerlinge van Windhoek Gimnasium, was deel van die Lion King-musiekblyspel se 20-jaar vieringe in die Verenigde Koningryk as deel van die Drakensberg Boys Choir School.
Ester Kamati
Mariselle Stofberg en Michelline Nawatises

Die goue stemme van twee Namibiërs het verlede jaar deelgeneem aan die 20 jaar-vieringe van die bekende Lion King-musiekblyspel as lede van die Drakensberg Boys Choir School.

Geo Kirsten en James Jooste het hul passie uitgeleef tydens die toer en deel hul storie met My Zone.

Geo Kirsten

Geo Kirsten is tans ingeskryf by die Drakensberg Boys Choir School in Suid-Afrika waar hy onlangs as die hoofseun aangewys is. Die skool is vanaf graad vier tot nege en bied formele opleiding in koormusiek aan.

Die koor het ook verlede jaar behoorlik naam gemaak en die geleentheid gekry om aan die Lion King-musiekblyspel in die Verenigde Koninkryk deel te neem. Elke jaar reël die skool ’n internasionale toer waar hulle optree.

Lebo M, die skrywer van die Lion King-musiekblyspel, is ’n reuse aanhanger van die Drakensberg Boys Choir School en na hulle vertoning in laasjaar se “World Choir Games” waar hulle die kategorie vir beste popkoor gewen het, is die ‘Drakies’ gevra om deel van die 20 jaar-vieringe te wees.

“Die gehoor was in ekstase toe hulle ons sien optree het, en op daardie oomblik het ’n tevredenheid oor my geval wat ek vir altyd sal onthou,” sê Kirsten.

Kirsten wil nie musiek as ’n beroep volg eendag nie, maar wil dit steeds as iets spesiaal in sy lewe behou. Hy beplan om eendag ‘n akademiese loopban na te jaag. Vanjaar is ook sy sesde jaar in die skool en Kirsten is van mening dat die skool hom ongelooflike waardevolle lesse geleer het. “Ek moes leer om verantwoordelik en onafhanklik te wees, en altyd ’n balans in alles te handhaaf.”

In sy eerste jaar by die skool was die aanpassing vir hom baie groot, veral omdat hy vêr van die huis af was. Soos tyd verloop het, het hy vriende gemaak wat hom deur die verlange gedra het. “Jou skoolmaats begin soos jou familie raak, want julle bring baie tyd saam deur,” voeg Kirsten by.

James Jooste

Jooste was vir twee jaar deel van die koor, maar het einde verlede jaar klaargemaak. Vanjaar gaan hy sy skoolloopbaan voortsit by Windhoek Gimnasium.

Jooste was ook deel van die toer in die Verenigde Koninkryk.

“Die toer was vir my erkenning vir amper twee jaar se baie harde werk en opoffering om aan die Drakensberg Boys Chior se standaarde te voldoen om hiervoor gekies te word,” sê Jooste.

Sy hoogtepunt van die toer was beslis om saam met die sterre van die Lion King-produksie in die Lyceum Theatre in London se bekende “West End” op te tree tydens hulle 20-jaar bestaansviering. “Dit was as ’n verrassing beplan en die skare was absoluut ekstaties,” sê Jooste.

James se ouers

“Die skool is geleë in ’n afgesonderde area in die Drakensberge waar die leerlinge se toewyding tot die uiterste beproef word om aan die standaarde te voldoen. Die ouers het geen geleentheid, anders as morele ondersteuning oor ’n afstand, om hul kinders te help nie en die leerlinge ontwikkel dus ’n inherente hoë graad van selfstandigheid en daarna selfvertroue,” sê James se ma, me. Peggie Jooste.

“Die feit dat James as 13-jarige seun met totale gemak so intense toer in ’n vreemde land, gehuisves by vreemde mense met ’n vreemde kultuur kan hanteer en geniet bewys hoe effektief die skool die kinders toerus,” sê Jooste verder.

As ouers glo James se ma en pa dit is belangrik om kinders se blootstelling te vergroot en om hulle toe te rus en voor te berei vir geleenthede in ’n wêreld wat groter as een dorp of land is en “dat ons die roeping op ons kinders se lewens moet erken, al mag dit soms beteken dat ons as ouers moet opoffer daarvoor.”

“James is ’n Namibiër in hart en siel en ons is dankbaar vir die geleentheid wat Namibië deur James gekry het om ons land op so ’n hoë vlak te kan verteenwoordig.”