Kletsrymers veg vir jong lewens

HemelBesem en kie se veldtog teen selfdood by skole maak Namibiërs se oë oop.
Yandi Du Plessis
Yandi du Plessis



Drie hip-hopkunstenaars, al die pad uit Worcester in die Wes-Kaap, het onlangs in Namibië aangekom om 'n veldtog vir die bewusmaking van selfdood onder die jeug te dryf.

Die kletsrymers Robin-Dean Fourie, Ramaques Fourie en Simon Witbooi, oftewel Die Hooflig, Oxijin en HemelBesem, voel musiek speel 'n belangrike rol in 'n kind se opvoeding en grootwordjare en kan selfs tot 'n mate bepaal wie hulle in die toekoms kan wees.

Die drietal sê hulle het altyd 'n fenomenale ervaring in Namibië.

“Namibiërs is mooi mense met mooi harte wat altyd reg is om te gee,” sê hulle. Hulle is passievol oor gemeenskapsopheffing en sê hulle het 'n “roepstem” uit Windhoek gehoor.

Die trio het sedert einde Oktober 'n druk program in Namibië gevolg. Hulle het by die Vintage Coffee Shop opgetree, wat glo “uitstekend” ontvang is en die deelnemers aan Dance Domain se kampioenskap beoordeel. Hulle het ook skole besoek, waar hulle stories vertel, opgetree en persoonlike ervarings met selfdood van geliefdes deel het.

Hulle het 'n draai onder meer by Amazing Kids, Windhoek Afrikaanse Privaatskool, Orban Primêre Skool, Centaurus Hoërskool, Windhoek Hoërskool en Seunskool Pionier gemaak. Hulle veldtog het hulle ook na Rehoboth geneem.

“Musiek kan mense se uitkyk op die lewe verander en dit is belangrik om dié filosofie te besef wanneer hulle nog jonk is. Mense onderskat die krag wat musiek het. As jy die dag in 'n slegte bui is en jy luister na 'n opgewekte liedjie, voel jy sommer dadelik beter.”

Die trio sê hulle is spyt hulle het nie meer tyd om Namibië te verken terwyl hulle hier is nie. Hulle het ander verpligtinge in Suid-Afrika wat hulle moet nakom. HemelBesem is betrokke by die Via-program Landbouweekliks en Oxijin moet terugkeer na die verpligtinge van pa-wees.

“Let me make the songs of a nation, and I care not who makes its laws,” haal hulle Andrew Fletcher aan. Hulle beplan om vir 'n lang tyd die generasie van die toekoms deur musiek op die regte pad te probeer hou. Hulle sê Namibië het beslis nog nie die laaste van hulle gesien nie en hulle wil binnekort terugkeer.



NAMIBIESE VERBINTENIS

HemelBesem vertel hy voel 'n sterk verbintenis met Namibië vanweë sy Witbooi-herkoms.

“Hendrik Witbooi was my oupa se oupa se pa,” vertel hy. Hy het selfs 'n tatoe op sy arm van dié ikoniese figuur wat op al die Namibiese note pronk.

Hy het ook onlangs 'n nuwe liedjie genaamd “Witbooi” bekend gestel.

“'Witbooi' is 'n lied wat gaan oor 'n vergete droom en fokus van 'n vergete groep mense,” vertel hy.

Die musiekvideo kan reeds op YouTube gekyk word. Die Duitsland-gebaseerde uitsaaier Deutsche Welle het die animasiewerk in die video gedoen. Hiermee wil HemelBesem meer bewustheid skep oor die geskie­denis van die Witbooi-stam, “in beide Suid-Afrika én Namibië”, benadruk hy. - yandi@republikein.com.na