KTS-toernooi in Okahandja ‘n reusesukses

Jong tennisspelers beïndruk
JUSTISIA SHIPENA
Mariselle Stofberg

Jong tennisspelers het weer die afgelope naweek die geleentheid gekry om hul talente tydens die Kallie Tennis Skool (KTS)-toernooi ten toon te stel.

Met ongeveer 60 spelers wat deelgeneem het, was dit ’n naweek om te onthou.

Mnr. Jandre Bezuidenhout, die organiseerder van die toernooi, was beïndruk met die talent en gesindheid onder spelers.

“By KTS glo ons daarin om nie net jong mense toe te rus met vaardighede op die tennisbaan nie, maar ook op ‘n persoonlike vlak. Dit is juis waarop die tweede jaarlikse toernooi van KTS in Okahandja gemik is. Spelers meet nie net kragte op die baan nie, maar neem ook deel aan verskeie take, wat onder meer organisasie, administratiewe funksies en selfs verkope insluit,” vertel Bezuidenhout.

“Ek moet Kallie Heese bedank vir al sy tyd, hulp en moeite om tennis hier in Okahandja te bevorder. Ons is ook dankbaar vir elke ouer, speler en beampte se harde werk en ondersteuning. Met die tema van die toernooi ‘Saam kan ons dit doen’, het ons net weer die waarde van samewerking besef,” het Bezuidenhout verder gesê.

Bezuidenhout sê verder die toernooi is in verskillende fases bymekaar gesit om eerstens die verskillende ouderdomsgroepe te skei, tweedens met die beperkte aantal bane te werk en laastens om spelers en toeskouers te beperk en sodoende die huidige inperkingsregulasies in ag te neem.

Die 11-jarige Joanivia Bezuidenhout, een van Okahandja se topspelers, het beïndruk tydens die toernooi en was die wenner van die o.16-ouderdomsgroep.

“Ek wil graag eendag Okahandja se eerste professionele tennisspeler word. Ek het al my wedstryde so baie geniet en leer elke dag nog meer van die sport. Ek wil graag ook ander kinders inspireer om hierdie sport te beoefen,” het Bezuidenhout gesê.

Uitslae

Chiara Zussino en Rino Sheya het onderskeidelik die o.8 meisies- en seuns afdelings gewen.

By die o.10-ouderdomsgroep het Victoria Jansen en Liam Conradie met die goud weggestap.

In die o.12 seuns-afdeling was Breyton Bezuidenhout die wenner, met Percy Snyders in die tweede plek en Anthoney Meintjies derde.

Kaylar Amutse is as die wenner by die o.12 meisies aangewys, met Otillie Hinda tweede en Shannon Arends derde.

Henlou du Toit het in die o.16-seunsgroep met die louere weggestap met Johan Pieters en Alex Mocke onderskeidelik tweede en derde.

Joanivia Bezuidenhout het die o.16-meisiesafdeling gewen met Ayanda Basson in die tweede plek en Johanna Teophellus derde.

In die “Socials”-kategorie was SP Van Wyk eerste, Eduan Schollij tweede en Stephan Koen derde.