Leer speel-speel met Busy Bees

Rovaldo Kavanga
Yolanda Nel



Die kinders is al vir weke by die huis en moontlik al siek en sat na televisieprogramme gekyk. Wat kan jy doen om die kroos besig te hou?

Een mamma in Windhoek het besluit sy maak die werk maklik en bied aktiwiteitsbokse vir kinders van verskeie ouderdomsgroepe aan.

Rebecca Marais pak bokse vol lekker aktiwiteite waar kinders kan leer om kleure te onderskei, prentjies te verf of in te kleur en te knip.

"Busy Bees het vroeër die jaar begin toe sy 'n paar Paasbokse begin adverteer het," vertel sy.

Kort voor lank het navrae begin inkom vir meer. Nou bied Marais elke maand 'n verskillende boks en haar temas sluit in onder meer plaas, ruimte en dinosourusse.

Die inhoud van die bokse word gelamineer en dit verseker dat 'n kind dit oor en oor kan gebruik.

Die bokse bevat ook alles wat 'n kind sal nodig hê om 'n sekere aktiwiteit te kan doen, insluitend onder meer skêre en inkleurkryte.

"As 'n mamma van 'n tweejarige weet ek hoe min tyd daar is vir ouers om sulke aktiwiteite saam met die kleinspan te doen en is die bokse daar om dit vir mammas en pappas makliker te maak."

Elke aktiwiteit kom in sy eie plastiekslopie en hoef geen ouer te wonder wat gedoen moet word nie. In die boks is ook 'n instruksielys wat verduidelik wat die kind moet doen.

As jy wil hê jou kind moet speel-speel leer, kontak vandag nog Busy Bees by 081 408 1860 of stuur 'n epos aan rebecca.ackermann28@gmail.com.