Matrieks 2017 is aand die brand!!

Charlene Grobler
Ons sit almal in ons rye, graad agt tot elf langs die kante van die NG Kerk en ons eregaste, die matrieks van 2017, in die middel. Die opgewondenheid vul die hele saal.

Die Valedictory is die gelukkigste hartseer dag van die jaar, en dié jaar was geen uitsondering nie. Almal, ouers, leerlinge - van graad 8 af deur tot matriek - tot die moeilikste onderwyser stort ten minste een traan.

Hierdie afskeid wat ons neem is vir almal moeilik, maar dit is altyd ‘n pragtige dag. Dié jaar se matrieks was werklik ‘n uitstaande groep kinders wat diep spore by Pro-Ed getrap het. Marguerite Wieland, hoofmeisie van 2017, kon ons gemoedere darem ‘n bietjie lig met haar toespraak. Veral nadat ons hoofseun van 2017, Michael Zapke, se toespraak omtrent ‘n tuimeltrein van emosies was. Ek en al my klasmaats het saam gelag en gehuil, soos die mense na wie ons opgekyk het, die laaste keer voor ons staan en hul pryse ontvang ...

Die klas van 2017 was nie net geesdriftig nie, maar hulle het beslis ook nie teruggehou met hul matriekuitslae in die rekordeksamen nie! Met vier leerders met gemiddelde bo 80%, dink ek die groep het beslis iets om te vier! Marguerite Wieland, Nicole Taylor, Michael Zapke en Jurgen Linde spog almal met hierdie uitstekende prestasie! Ook baie geluk aan Michael, ons Duxstudent 2017 met ‘n 85% gemiddeld!

Hoe verder ons in die program af beweeg, hoe meer emosioneel word die atmosfeer in die saal. Die onderwysers laat die matrieks met ‘n paar wenke vir die lewe na skool in ‘n pragtige video-opname, die matrikulante bedank die onderwysers met ‘n video van hul eie en dan word dit tyd om die senioriteit oor te gee aan ‘n volgende groep sterk leiers van Pro-Ed Akademie. Elke matriek steek ‘n kers aan die brand met die fakkel en gee dit dan oor aan ‘n graad 11-leerling, as ‘n simbool van die senioriteit. Soos die graad elfs ‘n erewag maak met ‘n kers in die hand, sluit ons program af met die matrieks, keppies hoog in die lug gegooi. Klaar met skool. Reg vir ‘n nuwe hoofstuk. Reg vir nuwe uitdagings.

Matrieks 2017, ek dink nie julle weet hóé ‘n groot impak julle op Pro-Ed en sy leerlinge gehad het nie. Die matrieks van 2018 het groot skoene om te vul, op ‘n akademiese, sport en kulturele vlak. Julle was ‘n uitstaande groep, een wat ons nooit sal vergeet nie. Au Revoir. Auf Wiedersehen. Goodbye, en tot weer siens ...