Meer as net toneelspel

Die toneelgroepe wat aan vanjaar se ATKV-Tienertoneelstreeksfees in Namibië deelgeneem het, het met hope emosie, passie, toewyding en talent die beoordelaars en gehoor stomgeslaan.
Evany van Wyk
Mariselle Stofberg

Jong akteurs het die gehoor op die rand van hul stoel gelaat tydens die streeksfees van die ATKV-Tienertoneelkompetisie in Namibië.

Met skaterlag tot hoendervleis het dié verskillende toneelstukke die talent en passie vir die verhoog duidelik ten toon gestel.

Onsekerheid oor seksualiteit, ’n realiteitsprogram vir verloofdes, die druk en emosionele kwesbaarheid van tieners, en die pyn wanneer familie jou seermaak was onder meer van die onderwerpe wat hierdie opkomende akteurs aangedurf het.

Vanaf 14 tot 16 Augustus het vyf Namibiese skole met nege produksies die geleentheid gehad om hul talent ten toon te stel tydens hierdie gesogte kompetisie wat vanjaar by Windhoek Gimnasium se skoolsaal aangebied is. Beoordelaars het repliek gelewer op die stukke en Privaatskool Elnatan, Windhoek Afrikaanse Privaatskool, Walvisbaai Privaat Hoërskool en Windhoek Gimnasium het tot die streeksfinaal op Vrydag deurgedring.

Windhoek Gimnasium is as die wenners van die streeksfees in Namibië aangewys.

Die toneelgroep sal van 23 tot 28 September sal die land by die finaal op Stellenbosch in Suid-Afrika verteenwoordig.

Met hul toneelstuk Doodmoeg, saamgestel deur die regisseur Magdaleen van Zyl, het die akteurs van Windhoek Gimnasium vir hoendervleis tydens hul optrede gesorg.

“My toneelgeselskap het reeds vanaf Februarie baie hard gewerk. Hul fokus was nie altyd die wen nie, maar om die tieners wat moed opgee met die lewe, se stories te laat hoor. As daar een mens was wat kon wegstap met hoop omdat hul stem laat hoor is, dan is ons dankbaar. Ons is ongelooflik trots en dankbaar oor die wen.”

Ira Blanckenberg, Craig Morris en dr. André Gerber was die beoordelaars van die streeksfinaal. “Wat ’n ongelooflike aand van toneelspel. Dit maak my sommer emosioneel om te sien hoe die groepe en stukke gegroei het,” het Blanckenberg gesê.

Morris het telkens opgemerk hoe die stukke in slegs een dag ná die repliek verbeter het, wat spreek van die gehalte en standaard van vanjaar se deelnemers.

Walvisbaai Privaat Hoërskool, wat derde geëindig het, het ’n eenmanstuk op die planke gebring wat Morris duidelik beïndruk het. “Ek kon nie glo hoeveel die stuk gegroei het in slegs een aand nie. Dit is opwindend om te dink waarheen dit op pad is.”

Windhoek Afrikaanse Privaatskool was tweede met hul oorspronklike teks, Uit Een Mond, geskryf deur Lloyd Zandberg, wat ook die regisseur was. Die akteurs het die gehoor laat skaterlag met skerp humor en flink toneelspel. “Daar is min dinge wat my so opgewonde maak soos die verhoog en dit was ? wonderlike ervaring om by Tienertoneel betrokke te kon wees. Ek dink die gehalte van vanjaar se produksies was ongelooflik en dit maak my opgewonde om te weet daar is sulke natuurlike en ongelooflike talent in Namibië,” het Zandberg gesê..

Elizmi Fourie, wat die rol van Zel vertolk het, het ‘n goue sertifikaat ontvang vir haar spel wat al die beoordelaars beïndruk het.

“Vanjaar se Tienertoneel was definitief ? uitsondering vergeleke met die ander en dit is die beste wat ons skool nog presteer het. Drama is wat ek met my lewe en toekoms wil doen, en met die goud wat ek gekry het, wys dit ek kan dit maak in die bedryf. Drama is die plek waar ek myself kan wees en ek voel altyd tuis op die verhoog,” het Fourie gesê. Sy was die enigste speler wat goud ontvang het.

Volgens Van Zyl bied die streeksfees aan leerlinge die geleentheid om mekaar beter te leer ken en as mens en groep te groei. “Ons het waardevolle lesse geleer hierdie week, by mekaar, by die ander stukke, by die beoordelaars. Alhoewel ons stuk se produksiepunt nie so hoog is soos die vorige jaar nie, sou ‘n mens amper kon sê die impak wat die leerlinge op mekaar en mense daar buite gehad het, is veel groter, en daarvoor is ek dankbaar.”

“As regisseur is dit vir my ongelooflik belangrik om werklik ‘n impak te maak met die storie wat vertel word op die verhoog. Ook die proses wat ek met my leerlinge deurgaan om by daardie karakters uit te kom, is priceless. Dit was ‘n ongelooflike reis tot dusver en ons sien uit vir wat voorlê,” het Van Zyl gesê.

Captions

Foto 1: In Privaatskool Elnatan se stuk Kandas het die emosies hoog geloop.

Foto 2: Uit Een Mond’ van Windhoek Afrikaanse Privaatskool het die gehoor laat lê van die lag.

Foto 3: ‘n Toneel in Doodmoeg’ van Windhoek Gimnasium.

Foto 4: Walvisbaai Privaat Hoërskool se uitdagende eenmanstuk, Hulle Sal Nog Bel, het die kwessies rondom seksualiteit uitgelig.

Foto 5: Windhoek Gimnasium is as die wenners van die ATKV-Tienertoneelstreeksfees in Namibië aangewys.

FOTO’S MARISELLE STOFBERG