Moria verjaar

Tunohole Mungoba
Volgens tradisie is die geskenk vir ? 28ste herdenking laventel of orgideë. Hoe gepas dan dat Moria se gelukbringer, Moerby , op die oudste Napso- privaat skool in die land se verjaardag “roomysnektar” aan leerlinge uitgedeel het.

Privaatskool Moria is vanjaar 28 jaar oud en spog met die titel van die oudste Afrikaanse private skool in Namibië. Moria is kort ná onafhanklikheid gestig toe ? paar ouers vanuit die Outjo-omgewing bymekaar gekom het en beplan het hoe om Afrikaanse onderrig te bewerkstellig. Bykans drie dekades later groei die skool vinniger as ooit en die skoolhoof, mnr. Loutjie Grobler, die sewende skoolhoof, meen die skool se gelukbringer is die mees gepaste dier om Moria se beeld uit te dra.

“Ons is klein, maar skerp en ons maak die heel soetste heuning,” het Grobler gesê.

Hoewel hierdie byekorf steeds klein is, groei dit jaarliks en aan die begin van hierdie jaar het daar ook vyf nuwe onderwysers by die skool aangesluit, en landbou word ook nou as vak aangebied.

Grobler sê hy is baie opgewonde oor die klomp nuwe gesigte onder die kinders en personeel en hoop vanjaar gaan weer eens `? groot jaar vir die skoolgemeenskap wees.

Privaatskool Moria het onlangs sy bestuursmodel verander en volg volgens mnr. Neil Prinsloo, die skool se bedryfshoof, ? neiging wat wêreldwyd gebruik word deur terselfdertyd twee hoofde in 'n bestuursvennootskap op 'n gelyke posvlak in diens te hê. Beide is hoof van 'n sekere afdeling met onderskeie bestuurareas – die skoolhoof van die skoolafdeling en die bedryfshoof van die bedryfsafdeling.

Moria wil graag ? wêreldklas skool wees, wat leerlinge hul volle potensiaal laat bereik deur middel van Christelike beginsels in Afrikaans, het Prinsloo gesê.

“Ons kinders is waarlik nog kinders, omdat hulle in 'n plattelandse omgewing grootword met groot vryheid en veiligheid, maar ook aan die nuutste neigings en tegnologie in die wêreld blootgestel word,” meen Prinsloo. Grobler voeg by die leerlinge kan as energiek, karaktervol en liefdevol beskryf word.

“Moria het ook ongelooflike sterk ondersteuning vanuit Outjo en Kamanjab, wat tradisioneel ons hoofbron van leerlinge is. Die wisselwerking in die gemeenskap maak die skool, dorp en omgewing 'n spesiale plek.”

Die hoofde meen hierdie plattelandse skool met die groot hart lewer ook op verskillende maniere bydraes tot die gemeenskap van die Outjo-omgewing.

Op maatskaplike gebied lewer Moria ’n bydrae met verskillende projekte, soos onder meer die skoenboksprojek, deur middel waarvan behoeftige leerlinge geskenke ontvang om in basiese behoeftes vir hulself en ook skryfbehoeftes om skool te gaan, voorsien. Die hele gemeenskap baat by die skool se samewerking met die plaaslike munisipaliteit om die dorp se sportgeriewe op te knap en in stand te hou.

Die geestelike voorgangers in kerke waar leerlinge lidmate is, kom gereeld by Moria bymekaar, en so word samewerking tussen die onderskeie kerke bevorder.

Op ekonomiese gebied dra die skool as werkgewer by met die meeste gegradueerdes op die dorp.

Die skool verseker ook dat nuwe besighede hulself op die dorp kan vestig, omdat daar 'n uitstekende skool is om hul kinders by in te skryf. Die onderskeie kultuur- en sportbyeenkomste lok mense ook na die dorp en dien as finansiële inspuiting van buite.

“Net soos Duitse privaat skole ’n blink toekoms in Namibië het, het Afrikaanse privaat skole ook ’n blink toekoms in Namibië. Afrikaanse privaat skole se getalle neem stadig maar seker toe. Al die Afrikaanse privaatskole is innoverend en het goeie bestuurstelsels met strategiese beplanning vir die toekoms,” het Prinsloo gesê.

“Elke verjaardag laat ons weer eens met dankbaarheid terugdink aan mense wat baanbrekerswerk gedoen het en wat ook moes aanpas by `? veranderende wêreld – mense wat `? passie vir die onderwysberoep en vir ons kinders gehad het, wat besef het dat ons self moet opstaan en saamstaan vir onderwys met Christelike beginsels in `? eie moedertaal,” het Grobler gesê.