Namibiese ruiters besoek Zimbabwe

Vier Namibiërs was onlangs in ‘n buurland om hul land by ‘n perdrykompetisie te verteenwoordig.
Michelline Nawatises
Evany van Wyk

Die Namibiese perderuiters Nadine Flemming (18), Nicolene Grundeling (17), Ariane Wieland (16) en Jayd Bassi-Hanssen (14) het onlangs aan die Afrika-skildreeks in Zimbabwe deelgeneem.

Die driefasekompetisie is van 11 tot 20 April gehou en die ruiters het meegeding in dressuur, skouspring en veldwedlope.

The Zone het met mnr. Olaf Falk van die Namibiese Ruiterkunsfederasie (Namef) gesels. Namef is ‘n nie-winsgewende organisasie. Dit is in die 1900’s gestig met die doel om die sport te fasiliteer en ondersteun. As hoof van driefasekompetisies was Falk en sy kollegas verantwoordelik vir die kies van die span, die perde waarmee deelnemers moes ry, asook vervoer- en verblyfreëlings.

“Die doel van die kompetisie is om atlete so veel as moontlik blootstelling aan internasionale kompetisies te gee,” het Falk gesê. “Een van die grootste uitdagings was finasiering. Die ouers was grootliks van verwag om die meeste van die onkostes te betaal. Om die perde te vervoer na ‘n ander land is baie duur, maar ons is aktief besig om borge te soek en aan moontlike geldinsamelingidees te dink.”

Een van die deelnemers, Nicolene Grundeling, het met The Zone gesels. Sy het op vierjarige ouderdom begin perdry en is sedertdien versot op die sport. Een van die hoogtepunte van die kompetisie in Zimbabwe was om nuwe mense te ontmoet, sê sy. “Om met ‘n onervare perd iets reg te kry wat sy eienaar nie kon nie, was ook een van my hoogtepunte,” sê Nicolene.

Perdry is ‘n gevaarlike sport, waarsku sy. “’n Mens moet onthou dit is ‘n dier en nie ‘n masjien. Hou kop en wees wakker, veral op jonger perde wat onervare is,” is Nicolene se raad.

Fanmari Lang, die span se bestuurder en afrigter tydens die Zimbabwe-reis, sê die grootste uitdaging was dat deelnemers nie met hul eie perde kon deelneem nie en noodgedwonge geleende perde moes ry. Danksy Namef is driefase-klinieke van vroeg af in die jaar gereël om al die ruiters in topvorm te hou vir die jaar wat voorlê. Die klinieke is aangebied deur twee suksesvolle ruiters in driefase-kompetisies, Douglas Walsh en Heidi Caine.

Lang is ontsettend trots op die span. “Hul deursettingsvermoë en sportmangees het my hart ‘trotse Namibiër’ laat klop,” sê Lang. Volgens haar gee die tipe kompetisies die jeug ‘n kans om te sien dat daar wel ‘n toekoms in sport is. Die vriendskappe wat gekweek word, is ook vir haar iets besonders. “Dit is regtig goud werd,” sê Lang. As ‘n span het die ruiters fantasties saamgewerk om mekaar en ander spanne te motiveer en ondersteun. “Want dit gaan nie net oor hulle nie. Dit gaan oor die liefde wat hulle almal vir hierdie ongelooflike diere en die sport het.” Volgens haar kom die perd altyd eerste.