Namibiërs kry beurse van Japan

Gabby Tjiroze
Michelline Nawatises



Ambassadeur Hideaki Harada van Japan het onlangs by sy ampswoning in Windhoek 'n afskeidseremonie vir twee ­Namibiërs gehou wat volle studiebeurse van sy land se ABE-program ontvang het.

Die Afrika Sake-opleiding vir die Jeug (ABE)-inisiatief bied beurse en internskappe vir studente wat vir hul meestersgraad studeer.

Norah Lydia Ngatjizeko en Senior Shimhanda, wat onderskeidelik 'n B.Tech.-graad in Ekonomie en 'n B.Ing.-graad in Elektronika en ­Tele­kommunikasie aan die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) verwerf het, sal met dié steun hul nagraadse studies in Japan voltooi. Norah is ingeskryf vir 'n ­M.-graad in ­landbousakebestuur aan die Tokio Universiteit van Landbou, en Senior vir 'n M.-graad in ruimte-ingenieurswese aan die Kyushu Instituut van Tegnologie.

Amb. Harada het die studente 'n voorspoedige reis na en 'n wonderlike ervaring in sy land toegewens: “Vorige Namibiese studente wat ons na Japan gestuur het, het baie positiewe terugvoering gegee. Ek glo julle sal ook, en dat julle goed met ander studente daar sal saamwerk.”

Beide studente het hul dank aan Japan uitgespreek.

Norah het gesê sy is opgewonde oor die reis: “Baie dankie vir hierdie geleentheid. Ek het nie gedink ek sal die beurs ontvang nie. Ek sal my bes doen met my studies en julle trots maak.”

Senior het ook die visekanselier van Nust, prof. Tjama Tjivikua, bedank. “Ek is sedert 2011 by Nust en die ­universiteit het 'n perfekte grondslag vir my gelê. Dankie ook aan die dekaan van ingenieurswese vir die bestuur van 'n departement wat my verander het in wat ek vandag is,” het hy gesê.

Ned Sibeya, hoof van ontwikkelingsamewerking by die ­Nasionale Beplanningskommissie, het die ­studente gelukgewens en gesê hulle moet Namibië se naam in Japan hoog hou.

Die studente vertrek op 31 Augustus na die buiteland.