NBF daag geslagsnorme uit

Die Namibiese Basketbalfederasie (NBF) strewe daarna om gelyke verteenwoordiging van mans en vroue in basketbal moontlik te maak.
Michelline Nawatises
Mariselle Stofberg





Die Namibiese Basketbalfederasie (NBF) het Saterdag 23 Maart ’n vlak 1-skeidsregtingkliniek in Windhoek by die Basketbal Artists School (BAS) se velde aangebied. Die kliniek is gelei deur mnr. Jackson Haufiku, met me. Petrina Aron, mnr. Mantius Amukoshi en me. Tamara !Gaoses as die instrukteurs. Hoewel konstante groei in beide die sport en skeidsregting vir die federasie van belang is, word veral klem geplaas op vrouebemagtiging in die sport as geheel.

Die suksesverhaal van !Gaoses, wat die eerste internasionaal erkende vroulike basketbalskeidsregter is, is bewys van die federasie se passie en ywer om seker te maak gelyke geleenthede vir beide mans en vroue word te alle tye geskep. “Ek hoop ons kan verder bou op die geleenthede wat deur hierdie klinieke moontlik gemaak word. Dit dra nie net waarde vir Namibië nie, maar vir vroue as geheel, want dit speel ? ongelooflike rol in vrouebemagtiging,” sê !Gaoses.

Volgens me. Jacobina Uushona, die skakelbeampte van die BAS en die NBF, strewe die federasie na gelykheid in alle fasette van die sport. “Die betrokkenheid van vroue in ons opleidingsklinieke word deurgaans beklemtoon as ’n prioriteit vir die NBF. Daarom wil ons verseker dat elke kliniek wat ons aanbied, minstens 50% uit vroue bestaan.”

Die NBF is hard aan die werk om die teenwoordigheid van meer vrouespanne in die liga te verseker, met die skoleliga wat ’n vroueafdeling in die o.14-, o.16- en o.19-ouderdomsgroepe geskep het.

Uushona is van mening dat sport ’n daadwerklike geleentheid bied om die norm en tradisionele geslagsrolle uit te daag. “Sport bied aan vroue die geleentheid om ook hul vaardighede ten toon te stel. Die enigste manier hoe ons die norme in die samelewing kan verander, is om nuwes te skep. Om die speelveld gelyk te maak vir almal klink miskien verregaande, maar Rome is nie in een dag gebou nie, so ons kan nie nou stop nie.”

Uushona glo sport bied waardevolle vaardighede aan beide mans en vroue wat nie net tot die baan of veld beperk word nie. “Sport bied aan jou die gevoel van dissipline, nederigheid, aanvaarding van mislukking en hoe om hierdie mislukking aan te wend om as ’n sterker weergawe van jouself terug te keer.”

Wat behels die kliniek?

Hierdie kliniek is die eerste van sy soort en is die eerste van ’n kursus met drie vlakke wat aan deelnemers die geleentheid bied om beamptes te wees met ’n kursus wat internasionaal herken word. Die kliniek het vir 18 deelnemers voorsiening gemaak en mnr. Jackson Haufiku het die eendagkliniek waargeneem. Die kliniek het gefokus op die basiese reëls van basketbal en wat die sport behels. ’n Kombinasie van teorie en praktiese toepassing het dit moontlik gemaak om die geldigheid van die voornemende beamptes te bepaal.

Mnr. Ramah Mumba, sekretaris-generaal van die NBF, sê hierdie kliniek en die kursus as geheel bied aan Namibië die geleentheid om meer gekwalifiseerde beamptes beskikbaar te stel. “Dit beteken op die beurt dat meer wedstryde gespeel kan word om Namibië se internasionale rang op die FIBA 3X3-Wêreldranglys se webtuiste te verbeter. ’n Hoër rang versterk Namibië se kanse om in die toekoms ook deel te neem aan Olimpiese wedstryde.”

3X3-basketbal is ’n erkende Olimpiese sportskode en die NBF sien groot potensiaal vir nie net die spelers om te kwalifiseer nie, maar ook beamptes wat hierdie vlak van skeidsregting kan bereik.