Oorleef so as eerstejaar

Diegene wat vanjaar vir die eerste keer universiteit of kollege toe gaan, sal die beste raad by studente kry wat klaar deur die vuurdoop is.
Michelline Nawatises
Michelline Nawatises - Een van die grootste oorgange wat ‘n jong mens maak, is die skuif van hoërskool na tersiêre onderrig. Dit is veronderstel om ‘n tydperk van pret en nuwe vriende te wees, en ook die geleentheid waartydens jy voorberei word vir ‘n blink loopbaan.

Ek onthou steeds my bruisende opgewondenheid toe ek laas jaar met my studies begin het. Ek is ‘n student aan die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie (Nust). Dit was ‘n reuse-oorgangstydperk, onder meer omdat universiteit op soveel vlakke totaal van hoërskool verskil. Op skool het ons baie meer tyd gehad en die onderwysers het ons elkeen geken. Op universiteit moet jy altyd een tree voor wees. Onafhanklikheid is uiters noodsaaklik, aangesien dit jou help om ‘n netwerk buite die “kokon” van die kampuslewe te skep. Sodoende word jy geestelik sterker. Deur die stad of dorp te verken waar jy studeer, kry jy al hoe meer selfvertroue om in situasies wat jou vantevore verskrik sou laat, met gemak te hanteer.

Ek weet vir party is dit moeiliker om te doen as vir ander, veral as ‘n mens so ver weg van die huis is.

Ten einde ‘n suksesvolle jaar te hê, is hier ‘n paar wenke om die eerste jaar ook makliker te maak:

Hou altyd by spertye

Party dosente is meer toegeeflik as ander, maar leer die gewoonte aan om van dag af een by spertye te hou. Maak aantekeninge in jou dagboek sodat jy die heeltyd op datum en voorbereid is.

Woon alle lesings by

Dit is uiters belangrik. As jy dit nie doen nie, kan jy jou eerste jaar heeltemal opmors. Dit is wel moontlik om al jou werk te doen en eksamens te skryf sonder om ‘n enkele lesing by te woon, maar glo my, die werk gaan jou oorweldig en jy gaan heeltemal verlore voel.

Goeie punte tel in die eerste jaar

Dit is belangrik om baie hard te werk, selfs al hoef jy net 50% te behaal om te slaag. As jy nie van die begin af alles insit nie, gaan jy ‘n baie onaangename verrassing in jou tweede jaar kry – die werk gaan baie meer en moeliker wees.

Sluit by verenigings en klubs aan

Wees aktief betrokke. Dit is ‘n wonderlike manier om verskillende mense op verskillende vlakke te ontmoet. Koester jou vriende wat jy op universiteit leer ken. Hulle is dikwels lewenslange vriende. Ek is baie lief vir my hoërskoolvriende, maar dié op universiteit ken meer fasette van my – die sorgelose en onafhanklike ek.

Vat ‘n kans: Maak vriende op alle vlakke en verryk jou lewe!