Oos, wes, maar Suide is bes

Blitsvinnige vingers, koelkoptieners en hope idiome het gesorg vir baie pret en opwinding toe die Ooste en Suide hulself in die eindstryd van die Bank Windhoek ATKV Idiomestryd vir Hoërskole bevind het.
ELIZABETH JOSEPH
Mariselle Stofberg

Op 11 September het Privaatskool Elnatan en Gobabis Gimnasium mekaar in die finaal van die immergewilde Bank Windhoek ATKV Idiomestryd vir Hoërskole aangedurf.

Beide spanne moes hul stoute skoene aantrek en koelkop probeer bly in die spanningsvolle laaste ronde van die Idiomestryd.

Die tweelingsusters van Privaatskool Elnatan, Elsa en Anri Visser, het as die wenners uit hierdie kompetisie getree.

Adda Shililifa en WP Oosthuizen, die leerlinge van Gobabis Gimnasium, het hul man gestaan teen die Visser-tweeling en met passie en toewyding hul skool in die eindstryd verteenwoordig.

Dié kompetisie is reeds 19 jaar aan die gang en vanjaar was die vyfde jaar wat Hartklop FM die gasheer kon wees.

“Wat is ? taal sonder hierdie pragtige idiome, toegewyde kinders en onderwysers wat die taal voortleef, beleef en laat leef,” het me. Leonie van Rensburg, die voorsitter van die ATKV in Namibië, gesê.

Bank Windhoek is reeds vir 19 jaar tot die idiomestryd toegewy. Mnr. André le Roux, die bank se skakelbeampte, het gesê: “Iemand wat idiome kan gebruik, is soos iemand wat skilder en iets kan skep waarin mense kan deel en weer en weer wil sien en hoor. Ek moedig die deelnemers aan om hierdie idiome wat hulle geleer het, altyd te gebruik om die skilderdoeke van hul lewe in te kleur.”

Mnr. Marco van den Berg, die takhoof van ATKV Namibië, was beïndruk met die kennis en toewyding van vanjaar se spanne. “Ek haal my hoed af vir al die deelnemers wat die tyd en energie insit om al hierdie idiome aan te leer. Idiome gee identiteit aan die taal en is soos potlode wat die taal kan inkleur,” het Van den Berg gesê.

Met die standaard van vanjaar se kompetisie is die opgewondenheid hoog vir wat volgende jaar mag voorlê.