Padveiligheid by skole opgeskerp

Tunohole Mungoba
Michelline Nawatises



Die Motorvoertuigongeluk-fonds (MVA) het op die eerste skooldag van 2019 'n padveiligheidsforum by die Laerskool A.I. Steenkamp in Windhoek gehad.

Die doel daarvan was om te verseker skole se veiligheidsregulasies word wel nagekom.

‘n Ouer, wat verkies om anoniem te bly, het gesê dit is 'n goeie inisiatief.

“Ek is bly om te sien waarmee die MVA besig is, veral in hierdie gebied omdat die meeste bestuurders hier roekeloos bestuur, wat ons kinders en voetgangers in gevaar stel.”

Die bedryfshoof van die Padveiligheidsforum, mnr. Horst Heimstädt, het gesê die spoedgrens is tot 30 km om alle skole verminder. “Nou is dit ons taak om te verseker bestuurders hou by die spoedbeperkings.”

Hy het gesê 'n veiliger omgewing word geskep deur skoolkinders te skei van die gebiede waarin voertuie is of beweeg. “Ons het iets soortgelyk op (Laerskool) Moses van der Byl se skoolterrein gedoen.”