Redakteursbrief

Kyla Horn
Die laaste termyn van 2017 het baie veranderings aan Pro-Ed gebring. Ons moes ongelukkig van mnr. Deon Prinsloo, mnr. De Wet Moolman en juf. Rene Conradie afskeid neem. Mnr. Deon woon nou in Windhoek, terwyl juf. René ver getrek het na Oman. Mnr. De Wet is op pad na Londen. Ons wens vir hulle alle sterkte toe. Ons moes ook tot siens sê vir die matriekgroep van 2017. Julle was ‘n besondere groep mense, wat ons skool se gees opgebou het tot wat hy vandag is. Baie geluk aan Michael Zapke wat die Duxleerling vir 2017 is. Sterkte met die laaste eksamen en met die pad wat voor julle lê. Op ‘n ligter punt het ons ook twee nuwe onderwysers gekry. Ons verwelkom met trots vir mnr. Sias Swart, asook vir mnr. Faghan Pocsi wat mnr. De Wet se klasse oorgeneem het. Ons hoop dat julle die tydjie by ons sal geniet. Ons het ook in die termyn ‘n baie suksesvolle wynveiling gehad, met gaskunstenaar, Thys die Bosveldklong. Die Napso- Kuns- en Kultuurfees is by die laerskool aangebied, in samewerking met die Duitse Privaatskool. Leerlinge van regoor die land het saamgekom en hul talente gevier. Ons bedank almal wat ‘n bydrae tot die fees gelewer het. Ons sien ook uit om te sien wat ons nuwe leerlingraad beplan vir ons skool. Baie geluk ook aan Aniké Maritz en Rowan Burger wat ons nuwe hoofmeisie en hoofseun is. Ter afsluiting van die jaar waar ek as deel van die redaksiespan kon dien, wil ek graag almal bedank wat ‘n bydrae gelewer het. ‘n Spesiale dank aan Anneke Burger wat my regterhand en hooffotograaf was. Baie dankie aan juf. Christelle vir die ure se insette en kopkrap. Dankie ook aan almal wat geduldig genoeg was om laat aande onderhoudsvrae te beantwoord, ons was soms ontydig, maar julle was altyd gereed om te help. Sterkte aan die volgende redaksiespan, dis harde werk, maar dis die moeite werd.
Kyla