Sesde jaarlikse woestynfees was ? jol

Michelline Nawatises
Michelline Nawatises

Die Buco Desert Sport Festival het vanaf 19 Maart tot 23 Maart by Walvisbaai Privaat Hoërskool se sportvelde plaasgevind.

Die doel van die Buco-woestynsportfees is om spelers deur sport te verenig en die gees van krag, liggaam en wil te bevorder.

Buco, Suid-Afrika se grootste dakkapvervaardiger, is al vir jare betrokke by die geleentheid as borg en die tweede jaar as hoofborg. Die ander borge is First National Bank, Price Waterhouse Cooper (PwC), Air Namibia en M & M Signs. M & M Signs en Air Namibia is nuwe borge. Air Namibia het dit moontlik gemaak om die Suid-Afrikaanse skole na Namibië te vlieg.

Die deelname aan spansport leer die jeug dat hulle sukses kan behaal om gemeenskaplike doelwitte te bereik om as ? span saam te werk. Dit bou ook karakter terwyl sport geniet word. Daar was agt Suid-Afrikaanse en nege Namibiese skole teenwoordig. Daar was 300 deelnemers meer wat hierdie jaar deelgeneem het in vergelyking met 2014.

Die Zone het Ben Walljee, 'n rugbyspeler van Hoërskool Bryanston in Johannesburg, Gauteng, gevra wat hy van die fees dink. "Walvis is 'n baie rustige plek, dit was ons eerste keer hier en ons het die akwarium, Duin 7 en die slangpark besoek," het hy gesê.

Hy het verder bygevoeg dat hulle drie wedstryde gespeel het. "Ons was té selfversekerd omdat ons die ander spanne onderskat het," het Walljee gesê.

Die rugbylegendes, Chester Williams, Francois Bonthuys, Danie van Schalkwyk en Stefan Terblanche was ook deel van die fees. 'n Toeskouer het gesê die fees was pret aangesien daar soveel gees was.

Dit was Moria Privaatskool se eerste keer om by die fees aan te sluit. The Zone het met die kaptein, Daniel Johannes, gesels om uit te vind wat hy oor die fees dink. "Ons was baie opgewonde toe ons verlede jaar hoor dat ons by die woestynfees gaan deelneem."

Hy vertel dat hulle nie geweet het wat om te verwag nie, so hulle het al vroeg begin oefen. Moria se rugbyspan het teen Hoërskool Bryanston en De Duine Sekondêre Skool gespeel. Hy verduidelik dat die wedstryd teen Hoërskool Bryanston baie fisies was en teen De Duine meer "hardlooprugby". Hulle wil graag hulle losskrums ook verbeter.

michelline@myzone.com.na