Skrywers sonder grense

Mariselle Stofberg
Rebecca Faul

Na 'n lang jaar van harde werk en baie verskillende projekte is ek baie dankbaar om deel te kon wees van Waprant. Ek het 'n wonderlike span gehad saam met wie ek kon werk. Hulle artikels was altyd vroeg in en hulle het gehelp waar hulle kon. My doel was om 'n verskil te maak, om Waprant beter te los as wat ek dit gekry het en danksy my span was dit moontlik.

Dis net ’n paar jaar terug wat Waprant vir die eerste keer op die been gebring is met slegs vyf redaksielede. In 2019 bestaan ons span uit 20 lede uit en die belangstelling bly groei. Dit is ook ’n hele nuwe ervaring om die kans te kry om in Republikein gepubliseer te word en die blootstelling aan die media bedryf is iets wat elkeen van ons kan huis toe neem en definitief vir ons van waarde sal wees in die toekoms.

Dit is nie altyd maklik om net ’n artikel te skryf nie en groepswerk en beplanning is werklik so belangrik. Daar word maande voor die tyd alreeds beplan wie watter artikels sal skryf en inligting word versamel vanuit vele areas en bronne. Wat ons wel ook al geleer het is dat die media bedryf werklik goed onder druk moet kan werk, want iets val altyd voor en dan moet ons met spoed wegspring en sorg dat ons ’n kwaliteit koerant kan uitbring. Saam met ons eie buitemuurs, ons skoolwerk en al die ander aktiwiteite waar ons ook moet betrokke wees is dit nie altyd so maklik nie, maar ons kan met trots kyk na hierdie uitgawe en sê dat ons definitief weereens suksesvol was.

Ons het baie projekte gehad die jaar waar ons moes uithelp. Ons het foto's geneem. Ons het mense meer vertel van die skool. Bowendien, ons moes die skool se naam hoog hou. Vanaf die interhuisatletiekbyeenkoms tot die matriekafskeid. Vanaf Valentynsdans tot swem en fietsry. Vanaf landloop tot Superliga finale. Ons was skrywers sonder grense. Ek is trots om te sê dat die span my bygestaan het. My trots. Regte Affies trots.