St. Andrew’s kry ’n sportveld

’n Nuwe sportveld is by Laerskool St. Andrew’s gebou met die doel om leerlinge fisiek te ontwikkel.
Michelline Nawatises
Michelline Nawatises

Pullquote: “Dit is inderdaad 'n trotse oomblik vir die skool.” – Davina van Wyk

Die skool glo opvoeding is sonder sportaktiwiteite onvolledig. Die droom om 'n eie sportveld te hê, het in 2005 reeds ontstaan.

"Ons het 'n groot fondsinsamelingsgeleentheid gehou en deel van die geld is gebruik om die sportveld mee te bou," het Davina van Wyk, die skoolhoof, gesê.

Ongelukkig het ander dorpe dié droom oorskadu en dit het amper vervaag omdat die skool sy 60ste verjaarsdag gevier het.

In 2007 het die skool 'n nuwe voertuig aangeskaf, asook 'n klaskamer met 40 skootrekenaars en 'n rekenaar met 'n smartboard vir onderwysers.

In 2009 is 'n nuwe skoolraad gekies om die bouplan op te stel, en 'n omgewingsinspeksie is deur die Windhoek-munisipaliteit gedoen. Dinge het egter nie volgens plan verloop nie, aangesien die ministerie van gesondheid nie met hul ablusiegeriewe tevrede was nie.

Die skool het dus voortgegaan om Khomasdal se sportgronde te huur, wat moeilik was, omdat ander skole ook van die sportgronde gebruik maak.

Die skool het die ablusiegeriewe in 2014 opgeknap en het daarin geslaag om 'n nuwe blok te bou. Dit het gelyk of die droom onmoontlik was.

Hoe meer fondse die skool ingesamel het, hoe meer uitdagings was daar.

Bouwerk het amptelik in Oktober verlede jaar begin en die projek het ongeveer N$ 750 000 gekos. Van Wyk het gesê die projek is ’n goeie voorbeeld van hoe die ministerie van onderwys, die kerk en die gemeenskap nou kan saamwerk om Namibiese kinders beter op te voed.

Die direkteur van onderwys, kuns en kultuur, Gerard Vries, het gesê leerlinge se ontwikkeling moet holisties wees.

"Deesdae lê onderwysstelsels meer klem op die verstandelike ontwikkeling van leerlinge en verwaarloos fisieke aktiwiteite," het hy gesê.

Sport en speletjies op skool hou meer voordele in as blote oefening. Eienskappe soos leierskap, om te deel, eerlikheid, spangees, ’n goeie selfbeeld, verdraagsaamheid, gebalanseerde fisieke en geestelike groei word ook ontwikkel.

Vries het gesê die Khomasstreekraad en die direktoraat van onderwys, kuns en kultuur is bly dat die skool nooit sy droom laat vaar het nie en dat die skool trots na hierdie gerief moet omsien.

" Ek versoek u om seker te maak die sportveld word tot sy maksimum vermoëns aangewend en om leerlinge in gebalanseerde landsburgers te laat ontwikkel,” het Vries gesê.