'Toor' met wetenskap

Octavia Tsibes
Angelina Norval

Namibiërs is onlangs deur ’n wetenskap-professor na ’n wonderwêreld weggevoer.

Dr. Richard-Emmanuel Eastes, 'n Switserse professor in chemie, het ses Suider-Afrikaanse stede met sy wetenskapvertoning Effervescience besoek.

Op Saterdag 3 November het hy Namibiërs se oë by die Franko-Namibiese Kultuursentrum in Windhoek met sy eksperimente laat rek.

Van die begin van die vertoning af was dit duidelik toorkuns en wetenskap is sinonieme.

Eastes het die gehoor met verskeie eksperimente vermaak, wat wissel van hoe om ’n lampie uit 'n gepekelde agurkie te maak, hoe om ’n gekookte eier in ’n bottel te kry sonder om daaraan te raak, en selfs hoe om die kleur van vlamme te verander.

Toeskouers het die geleentheid gekry om vrae uit ’n lys op ’n videoprojektor te kies, wat Eastes entoesiasties beantwoord het.

Toe hy voorheen ’n chemikus was, het hy eksperimente namens mense gedoen.

Later het hy besef hy het vrae beantwoord en ontdekkings gemaak wat dié mense nie eens gevra het nie. Hierná het hy mense aangemoedig om meer wetenskaplike vrae te stel.

"Ek het dit in Wes-Afrika gedoen. Aanvanklik het ek nie van videoprojektortegnologie gebruik gemaak nie," het Eastes gesê.

"Ek is nie so oud nie, maar hierdie soort ding het destyds nie bestaan ??nie, so ek het die gehoor se vrae uitgedruk. Daar was tussen 100 en 200 vrae. Maar dit was té veel. Ek die vrae geleidelik verminder en toe het dit hierdie vertoning geword."

Wanneer jy Eastes se vertoning kyk, kan jy sien hy het werklik ’n passie vir sy werk en geniet interaksie met die gehoor. Hy maak graag grappies en is als behalwe vervelig.

Dié professor hou jou op die punt van jou stoel en omskep wetenskap in iets wat selfs Harry Potter jaloers sal maak.