Van 'n droom tot werklikheid

Mariselle Stofberg
Lezanne Britz

As klein dogtertjie was een van my grootse drome om eendag oorsee te gaan.

Ek het gedroom van kastele, woude, ou geboue en al die prag te siene in ons kinderfeëverhale. Nou, op agtienjarige ouderdom, het ek my droom uiteindelik verwesenlik. Ek bevind myself tans in die land wat bekend is vir sy tulpe, windmeule, kaas, klompe, kanale en dan natuurlik fietsry. Ek werk as au pair in Bilthoven, 'n klein dorpie in Nederland. Dit is 10 minute se treinrit na Utrecht. Utrecht vestig een van die 4 grootste universiteite in Nederland en is ook bekend vir die Dom Tower, die langste kerktoring in Nederland, wat daar te siene is. Dit is ook in Utrecht waar die onlangse terroristiese aanslag uitgebreek het waar vier oorlede is en vyf beseer is. Nederland is die 4de veiligste land in die wêreld so toe dit gebeur het, is streng veiligheidsmaatreëls dadelik opgeskerp en die verdagte is vinnig vasgetrek.

My heel eerste week in Nederland was definitief 'n week om te onthou. Om hier fiets te ry, is regtig baie anders. Die fietse is onnatuurlik hoog en dit het my 'n tydjie gevat om gewoond te raak. Ek het al 'n paar Marelize-oomblikke gehad. Hier is die publieke vervoer net ongelooflik. Aan die begin was ek so verward en bang dat ek ander au pairs gevra het om asseblief saam met my die eerste keer hier trein te ry en my te wys hoe om geld op my treinkaartjie te laai. Hier was 'n klomp mense orals waar jy kyk. My heel eerste gedagte was: “Het hierdie mense nie werk nie.” Die winkels in die malls was propvol. Tot die aanpaskamers het rye mense gehad wat hul beurt moes afwag om iets aan te pas. Meeste mense dra glad nie kontant nie en baie winkels aanvaar dit ook nie. Alles is so modern. Daar is tot uitcheck-punte waar jy self jou produkte scan en betaal. Alles is dan nog in Nederlands ook.

Ek is verbaas dat almal wat my gevra het waarvandaan ek kom, presies geweet het waar Namibië is en ander was al selfs daar op vakansie. Dan swel my hart van trots.

Ek kan regtig sê Nederland het my verander. Ek het al baie ervaar en so baie mense ontmoet. Wat lekker is, is dat al die plekke binne 3 ure van mekaar af is so ek hoef nie meer 6 ure te ry om die see te sien nie. Hier is 'n groot diversiteit van mense van verskillende kulture wat ek al ontmoet het. Die kos is onverbeterlik en ek weet nie of die baie fietsry my sal red om gewig aan te sit nie. Ek is ook so bevoorreg om te sien hoe lente begin en die blommetjies begin bloei.

Nederland is werklik pragtig en ek is glad nie spyt oor my keuse om hierheen te kom nie, maar tog verlang ek elke keer wanneer dit stil raak en ek tyd het om te dink oor my mense, my land en my taal. Ek weet nou meer as ooit dat maak nie saak hoe gerieflik, mooi en veilig dit hier is nie: Ek sal terugkom na my land, Namibië.