Verkies jy lees met boeke of tablette?

Mariselle Stofberg
Ons lewe in die era van tegnologie en dis werklik “out with the old, in with the new” teen ’n woeste tempo. So het tablette ook in onlangse jare handboeke vervang. Dis beter vir die rug en gemakliker want alles is bymekaar. Maar ons wou weet wat ons WAP-leerlinge se opinies is en of hulle die ou boeke mis?

Gerhard Myburgh

Ek hou meer van elektronies, want die boeke is goedkoper en maklik om te kry. In die aande of in ’n donker area benodig elektronies lees nie ’n lig nie, want my foon of tablet het sy eie lig. My boek kan nie so vinnig breek of vuil raak nie. Dis net beter.

Eric Kamber

Ek dink die elektroniese-lees is die beste. Dit verlig die gewig van die kind te tas en maak dit makliker om byvoorbeeld ’n bladsynommer te vind. Jy sal ook nie sommer ’n boek by die huis vergeet nie. Dit gaan ook makliker wees om jou werk te doen, want in ’n gewone skoolboek (handboek) mag jy nie onderstreep om dit makliker te maak nie. Op die tablet kan jy doen wat jy wil, want dis joune.

Mieke de Beer

Ek verkies om boeke elektronies te lees. Daar’s ’n baie groot verskeidenheid boeke wat maklik en vinnig bereik kan word. Ons, as leerlinge, se tasse sal ook nie meer so swaar wees as ons net ’n tablet moet ronddra nie. Dit sal ons ook meer akkommodeer want ons kan die lig stel soos dit ons pas.

Annemarie Booysen

Ek verkies beslis boeke, want daar is niks soos om ’n boek elke Desember op die strand te lê en lees nie. Boeke voel meer persoonlik en die gevoel van elke bladsy omblaai is vir my merkwaardig. Ek sit graag die mooi boekmerkies met Bybelversies, wat ek by my ouma kry, in my leesboeke en elke keer wat ek verder lees, lees ek weer wat op die boekmerk staan. Daarom is boeke tonne beter en lees ek veel eerder uit ’n tipiese boek as op enige elektroniese toestel.

Arlene Jordaan

Ek verkies eerder boeke as om op ’n tablet, selfoon, of enige ander elektroniese toestel te lees. My rede hiervoor is eenvoudig: ’n boek het net soveel meer betekenis vir my. Om te blaai deur die boek (fisies) aan die papiere te vat, gee my soveel genot. Ek leef myself in, in ’n harde kopie, boonop ’n boek se battery kan nooit pap raak nie, en so kan ek aanhou lees vir solank soos ek wil. Daarom verkies ek ’n boek!

Helena van der Merwe

Boeke, niks sal die gevoel, eienaarskap, en die fisiese genot van ’n regte gedrukte boek vervang nie. Maar ons moet besef dat tegnologie een van die grootste en vinnigste groeiende industrieë ter wêreld is. Almal is deesdae op hol oor aardverwarming en dus dink baie mense om ’n E-boek te kry, en so die afkap van bome te verminder. Alhoewel baie mense die tasbare gevoel van tradisionele boeke geniet, het E-boeke tog verskillende voordele, en bied dit ’n veelsydige variasie wat gedrukte media nie kan nie. E-boeke is ontsettend vinnig en kan net so maklik gebruik word. Dit kan gerieflik saam geneem word na plekke waar gedrukte boeke ’n onsmaaklike las sou wees. ’n Brokkie goeie inligting vir jou pa se sak, E-boeke is goedkoper as gedrukte boeke.

Wihann Brits

Elektroniese boeke, want jy kan baie boeke op een toestel hou. Baie vervoerbaar. As uitgewers boeke aanlyn publiseer kan daar baie papier gespaar word. Indien die leser verveeld raak met een boek kan hy/sy tussen ander keuses wissel. Die toestel kan met ander funksies ingebou word soos ’n selfoon of tablet.

Tané Hatting

Ek verkies elektroniese boeke, dit spaar papier en dit is baie meer vervangbaar. Mense kyk ook beter na hulle elektroniese goedere as wat hulle na boeke sal kyk. Dit sal ook help met vandag se klimaat verandering wat plaasvind

André Wagner

'n Boek is beter as 'n elektroniese boek, want jy lees lekkerder met 'n fisiese boek en jy kan sien waardeur die boek al gegaan het, voel hoe ver of hoe lank die boek al gebruik is en hoeveel oë die boek gesien het en hoeveel vingers elke blad tee gekom het. Met 'n elektroniese boek is jy blind teen 30 danksy kunsmatige lig, met 'n fisiese boek benodig jy net 'n bedlampie wat agter jou staan en 'n gemaklike bank, dan kan jy vir dae aaneen lees en jou gedagtes laat wild gaan, en jy hoef nie 24/7 die ding se battery te herlaai nie.

Wilmien van Wyk

In my oë is ’n boek beter as ’n elektroniese boek, want om die fisiese boek vas te hou is baie lekkerder as om op ’n tablet te lees. Jy kan die boek uitleen vir familie en vriende as jy die boek klaar gelees het. Die fisiese boek skep vir my die ruimte van die boek beter as wat ’n elektroniese boek doen. Die reuk van ’n nuwe boek maak my opgewonde om die boek te begin lees.