'Verskerp dissipline by Acacia'

Octavia Tsibes
So sê mnr. Archie Beukes, 'n lewensvaardigheidonderwyser by die Hoërskool Acacia.

Die skool se 2018-leerlingraad is oorgehaal om dissipline by die skool te versterk, want dis al manier hoe die skool weer sal presteer, sê hulle.

Oor die afgelope vier jaar wat lede van die leerlingraad deel van die skool is, het hulle baie veranderinge deurleef. Een kwessie wat hulle wil regstel, is om die skool se beeld onder die gemeenskap te herstel.

“Ons wat deel van Acacia is, ken die skool beter as dié wat nie deel van die skool is nie,” het Phumla Krems, 'n leerlingraadslid, gesê.

Volgens Krems is Acacia 'n skool met baie potensiaal en is daar genoeg geleenthede om reg te maak waar vorige aksies verkeerd geloop het.

Sy sê verder dat hulle bewusma­kingsveldtogte van stapel wil stuur om tienerswangerskappe en alkohol­misbruik wat in die gemeenskap voorkom, te verhoed.

Die leerlingraad wil “instaan vir die stemloses” en uitvind wat presies hulle pla om sodoende oplossings te bied. “'n Mens weet nooit waarvandaan die oplossings sal kom nie. Dit kan van graad 8- of 9-leerlinge kom en daarom is dit belangrik om hulle by ons besprekings in te sluit.”





Eenheid

“Ek is gekies as gevolg van my potensiaal, en vanjaar wil ek die swak verhoudings tussen onderwysers en leerlinge verbeter. As daardie verhouding versterk word, sal leerlinge hul respek verdien en leerlinge sal hulself verootmoedig om onderrig te word,” het Krems gesê.

“As dit beteken dat ons ná skool moet bly om die gange skoon te maak, sal ons dit doen as dit goeie simbole sal help behaal.

“Die verandering moet begin met diegene wat weet wat die skool­bestuur én die leerders wil hê.”

Die nuwe leerlingraad het nóg groot planne, onder meer om die skoolsaal te verf, die saal se gordyne te vervang en die skoolhek te herstel.