WAP-gees by Kultuurfees

Mariselle Stofberg
Inge Becker



Die naweek van 12 tot 14 September het die jaarlikse Napso Kultuurfees by Pro-Ed Akademie in Swakopmund plaasgevind. Dit was ’n prettige geleentheid en kinders van ses- tot agtien-jaar het van heinde en verre gekom om deel te neem. Daar was ’n wye verskeidenheid kultuur items waaraan die kinders kon deelneem en dit het gewissel van voordrag, sang en dans na ’n Kuns-en Wetenskapuitstalling en Brugboukompetisie. Natuurlik het WAP ook gaan gesig wys en baie van die skool se leerlinge het deelgeneem en selfs pryse gewen.

Anke De Bruyn het uitstekende vermoëns gewys in die dans kategorie vir graad een tot drie leerders en was selfs aangewys as die kategoriewenner. Kaera-Lee Eksteen het gewoeker met ons ryk taal en is ook aangewys as die kategoriewenner in die Afrikaanse Voordrag kategorie vir Graad een tot drie.

Om mooi te kan teken is beslis bo baie mense se vuurmaakplek, maar nie vir Milla Lamprecht in graad agt nie. Sy was aangewys as die kategoriewenner met haar kunswerke in haar ouderdomsgroep.

Daar was ook ’n “Dink of Sink” debatwerkswinkel en baie van die hoërskoolleerlinge het dit bygewoon met die hoop om volgende jaar ’n debatspan te kan begin.

WAP het ook ’n tweede plek behaal met die jaarlikse Brugboukompetisie en die wonder-trio wat hierdie prestasie behaal het, is Ruben Du Preez, Kaylan Eksteen en Mianey Botha wat almal graad elf leerders is.

Ongelukkig moes hierdie lekker naweek ook tot ’n einde kom, maar ons hoop om volgende jaar selfs meer WAP leerders te betrek by hierdie skitterende geleentheid.