WAP se “Super” termyn

Mariselle Stofberg
Christo Boshoff

WAP sluit sy suksesvolle 2de sport-termyn af met agt spanne wat tot in die finale van hul verskillende ouderdomsgroepe deurdring en bekroon alles met hul 2de rugby-superliga titel.

Die KMC/ JCC Windhoek Affies se eerste rugbyspan het hul seisoen afgesluit met ’n naelbyt finaal teen Tsumeb Gimnasium en het met ’n telling van 37-34 die Momentum Superliga titel behou. Die WAP-span was steeds agter met vier punte nadat tyd verstreke was, maar ’n gedrewe aanval in oortyd deur WAP was beloon met ’n drie deur Louis Karsten, die skrumskakel, wat eindelik die wedstryd vir WAP deurgedruk het.

Die losskakel, Keanu Engelbrecht, het ook ’n groot bydrae gelewer tot die oorwinning en met sy betroubare voet het hy noodsaaklike strafskoppe en doelskoppe deur die pale laat seil. Engelbrecht was ook aangewys as die “man of the match” en die agterspeler van die naweek.

In ’n onderhoud met De Wet Oosthuizen, kaptein van die eerste rugbyspan, sê hy dat die span se sukses slegs aan die ondersteuning van die skool toegeskryf kan word. Oosthuizen stel dat hulle nooit hulle oor iets hoef te bekommer het nie, aangesien alles goed gereël was deur die sportkantoor en dat daar altyd baie kinders by die wedstryde was. “Ons kon net opdaag en alles gee en die ondersteuning was altyd daar,” het Oosthuizen gesê. “Dit is ook die span se broederskap wat veroorsaak dat ons alles vir mekaar gee en nooit ophou nie, wat bygedra het tot ons oorwinning.”

Dit is nie net die eerste rugbyspan van WAP wat sukses behaal het tydens die sportseisoen nie. ’n Totaal van agt spanne van verskillende sportsoorte het tot in die finaal van hul ouderdomsgroepe deurgedring en ’n verdere 14 spanne het dit tot in die semi-finale gehaal. Die eerste dames hokkie en -netbalspan het beide geëindig met ’n vierde plek in die nasionale liga, en die 1ste hokkie seuns eindig derde in hul liga.

Die o.14-seuns hokkiespan het ook weggestap as die wenners in hul nasionale liga om die tweede beker vir WAP te verower. By die dames hokkie het die o.10-B en o.14-A spanne tot in die finaal deurgedring om ’n 2de plek te behaal. Die o.11-rugbyspan het ook ’n tweede plek in hul liga behaal. Die netbal het die meeste finale gesien, met die o.11-A en B; en die o.13-span wat ’n tweede plek behaal in die finaal.

Groete aan die matrieks

Die jaar groet WAP ’n hele klomp matrieks uit die rugby, hokkie en netbal spanne. Ons as skool groet julle met swaar harte en wens julle slegs die beste toe. Die nalatenskap wat julle aan al die kinders jonger as julle los is een van harde werk en deurdrukvermoë. Julle het baie vir die skool beteken en julle name sal nog vir lank onthou word. Ons glo dat julle ’n sukses sal maak van al julle toekomstige planne en wag vir nuus oor hoe julle die wêreld verander