WAP-toneelspel maak geskiedenis

Mariselle Stofberg
Kati Ries von Bergen



Die jaarlikse ATKV-Tienertoneelkompetisie in Namibië het vanaf 14 tot 16 Augustus plaasgevind waar WAP leerlinge die skool se naam hoog gehou het en twee produksies op die planke gebring het.

Uit een mond deur Lloyd Zandberg, ’n WAP-produksie, het almal verras toe hulle die eerste keer in WAP se geskiedenis deurdring na die finale en daar ’n algehele silwer behaal het vir toneelspel. Elizmi Fourie het haar persoonlike beste verbeter en is die enigste aktrise wat ’n uitstekende goud vir spel behaal het.

Fourie is een van die leerlinge wat deel was van die eerste tienertoneel produksie wat WAP drie jaar gelede opgevoer het. Met hulle eerste produksie het sy ’n brons vir spel verower en sedertdien het sy elke jaar verbeter tot haar eerste goud. “Om te kon groei van ’n brons na ’n goud wys my dat ek die vermoë het om dit te maak in hierdie bedryf en om regtig my droom uit te leef. Mens moenie as jy eenkeer brons gekry het, dit jou laat stop nie, want jy kan groei tot ’n goud. Dit verg net baie harde werk,” sê Fourie.

Volgens die “cast” van Uit een mond het hulle besonders goed saam gewerk en die ervaring baie geniet. Nadat WAP deurgedring het na die finale, moes daar geskaaf word aan die teks wat natuurlik tot hul voordeel getel het en het ’n groot verskil gemaak.

Die stuk het nie net ’n silwer behaal vir spel nie, maar ook drie brons sertifikate aan Amelia van der Merwe, Hanco Stone, Francois Mouton, ’n silwer vir Tané Hattingh en ook ’n silwer aan Spencer van den Heever vir beligting. Die teks, regie, toneelstuk, verhoogbestuurder Anri Botha, klank en kostuums het ’n algehele brons huis toe geneem. Die regisseur, Lloyd Zandberg, is opgewonde oor toneel in die land. “Die talent waaroor ons land beskik is verstommend. Ek dink ons moet ’n entoesiasme onder Namibiërs vir teater kweek, en tienertoneel is die perfekte platvorm om dit te handhaaf.”

In die toneel, Om te speel of om nie te speel nie, het Tiaan Coetzee, Caitlyn Prince en Milla Lamprecht al drie brons sertifikate vir spel verwerf en weereens ’n silwer vir beligting. Die akteurs het saam help skryf aan die teks en het in een dag ’n dinkskrum gehou om die stuk te skryf. “Om iets nuuts te probeer was die moeite werd en ek het nooit gedink dit sal so lekker wees nie,” sê Nolene Steyn.

Leerlinge Andrea Hugo en Caitlyn Prince sê dit was ’n fantastiese ervaring gewees en hulle sal dit definitief weer wil doen. Die akteurs het baie goed oor die weggekom en het baie potensiaal. Die regisseur, Me. Annika Mouton was ongelooflik opgewond eom met die groep te kan werk. “Dit was vir my geweldig lekker om met die jong talent in die hoërskool te werk, om uiteindelik ’n geleentheid te bied om hulle selfvertroue te ontdek. Ek hoop dat ons op hierdie toneelstuk gaan voortbou in die toekoms om uiteindelik ’n wen stuk te kan produseer.”

Tienertoneel is ’n geleentheid waar leerders mekaar beter leer ken en nuwe, sterk bande vorm met jou mede akteurs. Dis hier waar leerlinge hul potensiaal ontwikkel en met hul talente kan woeker.