WBPHS vs Covid-19

Mariselle Stofberg
Elmi McCarthy



Covid-19 het die wêreld en veral onderwys omver gewerp. 2020 het Walvisbaai Privaat Hoërskool (WBPHS) op sy tone gehou en almal geleer om partykeer dinge op ander maniere aan te pak as waaraan hulle gewoond is.

Hoe het WBPHS aangepas by hierdie “nuwe normaal” wat Covid-19 tot gevolg gehad het en hoe reageer die leerlinge daarop?

In 2020 is die skool skielik gekonfronteer met die pandemie en moes hulle binne 'n kort tydjie besluite maak wat leerlinge, onderwysers en ouers tot 'n groot mate geraak het.

Aanlyn skool was 'n hekkie wat almal gesukkel het om oor te kom en die manier van onderrig moes oornag verander. Nietemin het die onderwysers hard gewerk om met hul leerlinge op die beste manier moontlik voort te gaan, hul sillabusse betyds af te handel en die leerlinge vir eksamen voor te berei.

Volgens Marcelle Myburgh, 'n graad 11-leerling, het die skool baie moeite gedoen om die leerlinge op datum te kry met die akademiese program. Hulle het selfs ná skoolure, in die middae, klasse aangebied. Dié harde werk het die nodige vrugte afgewerp en kan duidelik aan die goeie graad 12-uitslae gesien word.

Ten spyte van die feit dat party skole hul graadgroepe een vir een moet infaseer, was WBPHS bevoorreg dat die hele skool op 27 Januarie kon begin.

Ná goeie voorbereiding en deeglike beplanning het die skool voldoen aan al die gegewe Covid-19-prosedures en -regulasies en was dit moontlik dat alle leerlinge met klasbywoning kon begin.

Oor die algemeen is die meeste leerlinge tevrede met die manier waarop die skool die pandemie aangepak en hanteer het. “Die skool se organisasie is goed en maak dit maklik vir leerlinge om so normaal as moontlik skool te gaan,” sê Deon de Klerk, 'n graad 11-leerling.

WBPHS het die pandemie by die spreekwoordelike horings gepak en is nog steeds besig om die Covid-bul in toom te hou.