WHS se ‘Beauty and the Beast’ meer as net ‘n toneelstuk

Windhoek Hoërskool se sjarmante weergawe van Beauty and the Beast was ‘n treffer onder sy gehore en het sy akteurs en aktrises laat blom
Monque Adams
Iréne-Mari van der Walt

Windhoek Hoërskool het onlangs gehore in vervoering gehad met hul charismatiese vertolking van die klassieke Beauty and the Beast. Ongeveer 45 van die skool se leerlinge het hul beste voetjie voorgesit op die planke of handjie bygesit agter die skerms om die produksie se sukses te verseker.

Heidi Oberholzer, ‘n onderwyser by Windhoek Hoërskool en die vrou wat aan Vernon Sawyers se sy die produksie aan die lewe gebring het, sê dit was vir haar ’n eer om die groei van ieder en elk van die produksiespan se lede te ervaar.

“Elke kind is so spesiaal en dit was goed om te sien hoe hulle van skaam kinders tot regte akteurs gegaan het wat kan improviser en hul rolle hul eie maak. Dit is so lekker om te sien hoe hulle selfvertroue gebou het,” sê Oberholzer.

Buiten die hupstoot aan hul karakters, meen Oberholzer dat theater vir hierdie groep ‘n tuiste kon wees.

“Ek dink dit het hulle ‘n sin van aanvaarding gebring om deel van ‘n groep te wees. Ek dink dit was vir hulle lekker gewees om deel van iets groter te kan wees,” sê sy.

Nou meer as ooit, meen Oberholzer was dit nodig om gemoedere hoog te hou deur middel van die kunste.

“Daar was ‘n tyd toe ek nie gedink het ons sal dit kan hou nie. Toe was dit in die derde vlaag toe dit so sleg gegaan het, maar ek het net besluit dat ons dit moet eenvoudig plaasvind. Ek het vir hulle gesê al is daar net 10 mense in die gehoor, moet ons dit net doen. Veral in hierdie jaar was dit nodig om die kinders hoop te gee,” sê sy.

Hoewel die kostuums en glansryke kostuums en towerspieëls nou weer moet terugkeer na die stoor, vertel Oberholzer dat die sjarme van die kunste die skool se student steeds ‘n huppel in die stap gee.

“Die kinders is vuur en vlam vir die volgende produksie. Ons gaan definitief weer iets doen. Ons neem nou voorstelle van die kinders en hulle stuur kort-kort vir my boodskappe met nog voorstelle so ek dink hulle is nogal opgewonde,” sê sy.