Windhoek Affies gereed vir e-onderrig

Mariselle Stofberg
Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP) is al vir die afgelope drie weke besig om die e-onderrig platform te implementeer en personeel asook leerlinge daarvoor te registreer. Weens die landswye inperking wat onlangs verleng is tot 4 Mei kan kontakonderrig nog nie hervat word nie.
Skole moet nou van afstandsonderrig gebruik maak en met behulp van elektroniese toestelle en enige medium tot hul beskikking e-onderrig gebruik om seker te maak leerlinge bly op datum met skoolwerk. WAP het ook seker gemaak hulle het die nodige maatreëls geïmplementeer en platforms beskikbaar om seker te maak leerlinge kan steeds met hulle skoolwerk aangaan.

Hoërskoolleerlinge en e-onderrig

“Alle personeellede het reeds die nodige opleiding ondergaan en sal vanaf Maandag 20 April met die klasse begin. Daar sal gebruik gemaak word van Microsoft (MS) Teams, WhatsApp-groepe asook ITSI. Klasse word op MS Teams aangebied word en ITSI word gebruik om toegang tot elektroniese handboeke te kry,” sê mnr. Kobus Espach, die hoërskool-skoolhoof by WAP.
Albei stelsels kan ook gebruik word om dokumente aan leerlinge te stuur. ’n Rooster is ook saamgestel om te bepaal wanneer die onderskeidelike vakke aangebied sal word vanaf 20 tot 30 April. “Elke leerling ontvang daagliks ’n uitnodiging na elke klas wat hulle met die onderwyser en die res van die leerlinge verbind. Personeel kan klasse regstreeks aanbied of voor die tyd opneem en as ’n video plaas, afhangende van die inligting wat oorgedra moet word,” sê Espach verder.
Leerlinge kan deur ‘n “chat”-funksie vrae tik wat deur klasmaats en personeel beantwoord kan word. Elke dag se video’s en dokumente word as ‘n “meeting” gestoor en leerlinge het dus later steeds toegang tot dié inligting indien hulle dit sou benodig.
Alle graad 8 tot 12-vakke word gedek en klasse begin om 07:15 in die oggend en kan tot 15:00 die middag aangaan.
“Personeel sal minimaal vanaf die skool werk. Slegs personeel wat nie voldoende toegang tot internet het nie sal van die skool af kan werk. Alle regulasies, soos deur die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WHO) bepaal, sal gehoorsaam word en personeel sal tot hulle klasse beperk wees,” het Espach gesê.

Laerskoolleerlinge en e-leer

“Die skool het onmiddellik na die onverwagse aankondiging van die inperking die vakansie vervroeg en dadelik begin om moontlikhede te ondersoek wat as plaasvervanger kan dien vir die klaskamer-situasie waar die onderwyser en kind vir vyf ure per dag in mekaar se teenwoordigheid is en die doeltreffendste is,” se me. Elna de Jager, die laerskool-skoolhoof van WAP.
“Omdat die laerskool nie op tablette en met e-boeke werk nie, is die uitdaging om e-onderrig binne ‘n bestek van drie weke in plek te kry uit die aard van die saak groot. Kundiges is betrek om die skool in dié proses te ondersteun en intussen is alle personeellede opgelei om so normaal en effektief as moontlik voort te gaan met lesse vanaf 20 April,” voeg De Jager verder by.
Die laerskoolonderwysers gaan ook deur MS Teams lesse aanbied en al die leerlinge gaan die leermateriaal elektronies ontvang. Graad 1 tot 7 leerlinge sal elke weeksoggend tussen 08:00 en 09:00 lesse van hulle vak- of registeronderwysers ontvang wat video-opnames, PowerPoint-voorleggings en leermateriaal insluit waarna hulle deur die loop van die dag op hulle eie tyd kan kyk.
Onderwysers sal op spesifieke tye deur die dag en aand aanlyn beskikbaar wees om vir die leerlinge van hulp te wees en hulle- en hul ouers se vrae te beantwoord. Lesse sal ook beskikbaar bly op hierdie platforms indien leerlinge later daarna wil verwys.
“Vanweë die feit dat daar dalk meer as een kind in die huis is of ’n ouer nie beskikbaar is vir ondersteuning nie, voorsien ons nie al die leerlinge sal op dieselfde tyd soggens gereed wees om by ’n les in te skakel nie. Dus sal die lesse vooraf opgeneem en gelaai word, maar gedurende vasgestelde tye van die dag sal die leerlinge met hulle onderwysers kan gesels,” sê De Jager.
Klasse vir die laerskool sal vanaf 09:00 soggens opgelaai wees vir die dag, wat akademiese- sowel as nie-akademiese vakke insluit. Die leerlinge sal daagliks of weekliks met al hulle onderwysers kontak hê.
“Daar is wel navrae van ouers wat nie oor ‘n rekenaar beskik nie, maar ons is nie bewus van ’n huis waar géén selfone vir ’n leerling beskikbaar is nie. Ouers met fasiliteit-probleme word genooi om ons te kontak sodat ons kan ondersteun waar ons kan en toesien dat geen kind agter raak nie,” het De Jager verder gesê.

Treintjieskool vir voorskoolse leerlinge

Die personeel van WAP se Treintjieskool het dieselfde opleiding ontvang en laai ook hul lesse aanlyn op sodat die ouers en kleuters enige tyd daarvan gebruik kan maak.

Lesse word elke oggend tussen 8:00 en 9:00 opgelaai en onderwysers probeer lesse so konkreet en kleutervriendelik as moontlik hou.

“Elke juffrou hanteer self al haar kleuters en deur van e-onderrig gebruik te maak kan kleuters weer hulle juffrouens sien. Juffrouens sal ook tydens voorgeskrewe tye, soos gekommunikeer sal word aan ouers, beskikbaar wees vir ouers en kleuters,” sê me. Phia Theron van die Treintjieskool.