Windhoek Gimnasium lewer dramatalent

’n Graad 9-leerling van Windhoek Gimnasium is onlangs as die wenner van die graad 8 tot 12-kategorie van die SA Dramaweb-kompetisie aangewys.
Mariselle Stofberg
Mariselle Stofberg





Marelee Ferreira is ’n 15-jarige graad 9-leerling van Windhoek Gimnasium wat onlangs as die wenner van die Dramaweb SA-kompetisie se graad 8 tot 12-kategorie aangewys is.

Marelee doen al toneelspel vandat sy sewe jaar oud was.

“Toe ek jonger was, was dit net iets wat ek geniet het om te doen. Ek het aan kultuurfeeste deelgeneem en baie ondersteunende onderwysers gehad. Wat ek die meeste van toneelspel hou, is hoe dit jou meer oor jouself en ander leer,” sê sy.

“Een van die belangrikste lesse wat jy leer, is om nooit ’n karakter te oordeel net op dit wat jy kan sien nie. Jy leer om dieper as die oppervlak na dinge te kyk en dit help jou om jou manier van dink en hoe jy na die wêreld kyk, te verander.”

Marelee het verlede jaar ook aan die kompetisie deelgeneem en derde geëindig. Sy was opgewonde om hierdie jaar te sien hoeveel sy kan verbeter.

“Om deel te neem, moes jy video’s van jouself instuur en dan wag op terugvoer. Daarna ontvang jy ’n sertifikaat met punte waarop jy kan verbeter. Indien jy onder die toptien was, het jy deurgedring na die finaal wat regstreeks gestroom is.”

Om vir die toptien te kwalifiseer, moes ’n deelnemer in meer as een kategorie deelneem. Marelee het in beide die monoloog- en poësie-afdeling deelgeneem, waar sy cum laude geslaag het.

“Elke jaar gebruik hulle briljante beoordelaars, en vanjaar was geen uitsondering nie. Die beste deel vir my was om weer vir ’n gehoor te kan optree en te weet my storie kan weer deur ander mense gehoor word,” sê sy.

ONDERSTEUNING IS BELANGRIK

“My ma was vroeër jare my afrigter en bly my grootste ondersteuner. Tydens die kompetisie was sy in die kamer besig om seker te maak die beligting is reg, die kamera is reg opgestel en om seker te maak ek is emosioneel gereed en glo in myself.”

Me. Magdaleen van Zyl, wat ook by die skool skool gehou het voor sy na Suid-Afrika verhuis het, is nou Marelee se afrigter.

“Sy help my deur Zoom-sessies en het my gehelp om meer emosionele stukke aan te pak. Sonder haar sou ek nie wees waar ek vandag is nie. Sy ondersteun my en weet altyd presies wat om met ’n stuk te doen. Saam met haar, my ma en God, weet ek ek kan enige iets doen,” sê Marelee.

“Baie mense dink akteurs kan goed jok en voorgee. Toneelspel is nie jok of voorgee nie, maar verstaan. Jy moet empatie hê vir mense en dit waardeur hulle gaan. Karakters het elk hul eie unieke storie en agtergrond, en as akteur moet jy dit verstaan. Dit leer jou om deursettingsvermoë te hê, op jou voete te dink en innoverend te wees.”

Marelee is ook lief vir ballet, sing en enige ander tipe uitvoerende kuns.

“Ek is ’n totale kultuur-entoesias, wat hierdie soveel meer maak as net ’n stokperdjie. Dit bied my soveel vreugde, selfs in tye wanneer ek vergeet hoe om te glimlag,” sê sy.

“Ek kan nou nog nie glo ek het gewen nie. Ek wil eendag ’n aktrise wees, en nou is ek net een stap nader aan daardie droom. Al die harde werk het my gehelp om die vrugte te kan pluk.”

Marelee werk tans aan ’n stuk wat Du Toit Albertze vir die ATKV Digitoneel vir haar geskryf het, en is tans onder die top-20 hiervoor, met die semifinaal wat om die draai is.

“Ek is ook opgewonde vir die jaarlikse Curro Create Straight to Camera-filmfees en die FAK Internasionale Afrikaanse Ekspo-kompetisie,” sê sy.

Marelee se ma, me. Heila Ferreira, moedig haar dogter aan om haar drome te volg, maak nie saak wat gebeur nie.

“Ek help haar op enige manier wat ek kan. Ek is so trots op die mens wat sy is en alles wat sy tot dusver reggekry het. Ons as ouers moet ons kinders die vlerke gee om hul drome na te jaag, maar hulle ook die kans gee om dit op hul eie reg te kry. Soms moet hulle val en sukkel, en al wat jy kan doen is om daar te wees en hulle lief te hê en te ondersteun.”

Heila moedig haar kind aan om in alles deel te neem, maar steeds ’n balans te handhaaf.

“Sy is net so lief vir sport, skaak en netbal. Sy het begin leer hoe om te prioritiseer, en ook na haarself te kyk. Ek is so trots op haar, en wil net die beste vir haar hê in alles wat sy doen. Ons as ouers moet ons kinders help om ten spyte van die seer en pyn in die lewe, altyd hoop te hê en altyd die mooi in die lewe te soek.”