Woestynfeesfluitjies begin al blaas!

JUSTISIA SHIPENA
Amoré Engelbrecht, graad 12A

Walvisbaai Privaat Hoërskool hou die jaarlikse Woestynfees van die 19de tot die 23ste Maart 2019. Al die eerstespanne van WBPHS neem deel. Die rugby-, hokkie- en netbalafrigters se spanne is slaggereed vir hierdie groot geleentheid.

Skole van die noorde tot die suide van Namibië neem deel aan hierdie byeenkoms, asook skole van Suid-Afrika. Daar is goed voorberei vir hierdie byeenkoms en die finale program is reeds beskikbaar.

Die Nartjies, WBPHS se eerste rugbyspan, speel môre om 20:15 die eerste wedstryd van die toernooi teen Windhoek Gimnasium. Die spelers is baie opgewonde en sien uit na die toernooi. Eli Engelbrecht, 'n graad 11-leerder van WBPHS, sê: “Nie een van ons rugbymanne kan meer wag vir die Woestynfees nie. Ons oefen hard en bly gefokus en doelgerig.” Die rugbyseuns het al vroeg hierdie jaar begin met hul fiksheidstoetse en die beplanning van hul strategieë.

Die netbalmeisies is ook al in rep en roer oor die Woestynfees. Die Orakel het vir Athena Beukes, matrikulant van WBPHS, gevra waarna sy die meeste uitsien. Haar antwoord was: “Die gees op én langs die veld. Hoe ons 'n span sal vorm wat mekaar se swak punte sal verbeter en om net alles ten volle te geniet.” Die Orakel-span kan die entoesiasme onder die leerders aanvoel.

Mianka Robberts, hulpdoel van die eerste netbalspan, noem dat daar “nuwe bloed” in hulle span is. Dit maak dat die span nuwe strategieë kan beplan en na groter sukses kan strewe. Met elke oefening, glo sy, raak hul by die dag sterker en meer doelgerig.

Terselfdertyd oefen die seuns- en meisieshokkiespanne ook hard.

Johan Brand, ? speler van die seunshokkiespan en matrikulant van WBPHS, sê: “Ons sien definitief uit na die Woestynfees. Ek dink ons hokkiespan gaan WBPHS hierdie jaar baie trots maak!”

Al vind die openingseremonie eers môre om 17:00 op “Nartjiepark” plaas, skop die eerste wedstryde reeds om 10:30 môre af.

Die Orakel wens elke span alle sukses toe met hulle voorbereiding vir die byeenkoms. Ons glo, bid en vertrou dat Walvisbaai Privaat Hoërskool hul doelwitte gaan bereik en dat hierdie jaar die beste Woestynfees sal wees wat ondersteuners al ooit beleef het!