Word jou eie hoofkarakter met Loeloe-boeke

Die gemotiveerde Yolanda Nel het ’n inisiatief begin waar ouers hul kinders se leesboeke kan aanpas om hul kind die hoofkarakter te maak.
Mariselle Stofberg
Mariselle Stofberg

As jy nog altyd die held in jou eie boek wou wees, bied Loeloe-boeke jou die ideale geleentheid hiervoor.

Loeloe is begin deur die ma van twee, Yolanda Nel, en bied ’n unieke benadering tot lees vir kinders.

“Die boeke is 100% aanpasbaar en gee lesers nie net die geleentheid om die name van die karakters te kies nie, maar gee jou ook die kans om uit ’n verskeidenheid karakters te kies,” sê Nel.

Die doel van die boek is om reeds van ’n jong ouderdom af ’n liefde vir lees onder kinders te kweek. Watter beter manier is daar om dit te doen as om jou ma of pa te hê wat vir jou ’n storie lees wat alles oor jou gaan?”

Tans is ’n ballerina-boek vir meisies en ’n baba-boek vir beide meisies en seuns beskikbaar.

Die baba-boek is in Engels en Afrikaans beskikbaar en ’n Duitse weergawe sal binnekort beskikbaar wees. Tans is die ballerina-boek slegs in Afrikaans.

“Alles word deesdae verpersoonlik en die rakleeftyd van ’n boek is net soveel langer. My droom is beslis om ouers te kry om hul kinders te laat lees. Ek glo dit help nie net om ’n woordeskat op te bou nie, maar help hulle ook om hul verbeelding te ontwikkel,” het Nel bygevoeg.

Die baba-boek is Nel se nuutste projek.

“Die idee was om iets te skep wat ideaal is vir slaaptyd. Die illustrasies is baie neutraal en nie te oorweldigend met kleure nie. Daar is net een prentjie per bladsy en die ontwerp is skoon, maar tog iets waarby kinders sal aanklank vind.”

Die idees en storielyne vir Nel se boeke is deur haar twee seuns geïnspireer. “Om ’n tweejarige en ’n byna eenjarige te hê, bied nogal baie inspirasie vir die boeke.”

Nel glo lees is ’n uitstekende geleentheid vir kinders van alle ouderdomme om hul woordeskat op te bou.

“Van kleins af gee dit hulle die geleentheid om na prente en woorde kyk en te leer wat dit is en hoe dit lyk. Ouers het die geleentheid om woorde te herhaal en te vertel waarna hulle wys.

“Dit is ’n wonderlike geskenk, want dit plaas jou kind as die hoofkarakter. Ons het ons almal verbeel ons is die prinses of prins in die boeke wat vir ons gelees is. Nou word prinses Mariselle en prinses Yolanda werklik. Ek glo dit is waar hul verbeelding begin ontwikkel,” sê Nel verder.

Alhoewel sy ’n ma van twee seuns is, het Nel eerste ’n boek vir meisies geskep, maar hoop om binnekort ook boeke vir seuns gereed te hê.

“Ek hou daarvan om ’n boek te kan vashou en omdat my seuns nog jonk is, sal ek altyd ’n gedrukte weergawe bo digitaal kies.

“Maar ek weet ook dat ons wêreld verander en ek sal ook kyk na ’n digitale benadering tot die projek in die toekoms.

“Vir bestelvorms of meer inligting, kontak Loeloe-boeke deur ’n e-pos aan landa.nel@gmail.com te stuur,” sê sy.