Yssel en Kidd kraai koning

Wenners van die CAT-tennistoernooi in Windhoek
Mariselle Stofberg
Die Confederation of African Tennis (CAT) is 'n kontinentale sportorganisasie wat 50 Afrikalande insluit.

CAT se doelwit is om tennis een van die gewildste sportsoorte in Afrika te maak, terwyl topspelers op die hoogste vlak geïdentifiseer word.

Namibië is ook deel van hierdie 50 lande en ingedeel in Sone v (5) saam met 12 ander in suidelike Afrika.

Die Namibiese Tennisvereniging (NTA) het toestemming van CAT om jaarliks een o.14-toernooi aan te bied waarvan die uitslae aan CAT gestuur word.

CAT ken Afrika o.14-ranglyspunte toe aan alle deelnemers. Hierdie rangorde is die grondslag waardeur CAT-spelers ingesluit word in die loting van internasionale toernooie en is baie belangrik vir alle voornemende o.14-spelers. 'n Speler moes op 26 Februarie 2021 elf jaar oud en op/na 2007 gebore wees om vir hierdie toernooi te kwalifiseer.



Die afgelope naweek het Namibië se jaarlikse CAT o/14-toernooi plaasgevind. Verskeie tennisspelers, 22 meisies en 15 seuns, het ingeskryf.



Die eerste vier gekeurde spelers in die seunsafdeling het almal deurgedring na die semifinale.

Ruben Yssel (1ste gekeurde) het die 11-jarige Lian Kuhn met 6-1, 6-1 gewen. Yssel het min foute gemaak en het gemaklik met die goue medalje weggestap.

Eduan Schollij van Okahandja wen vir Abraham Alemu 6-2, 6-2 om die derde plek in te palm.



Yssel en Kuhn was ook dubbelsvennote en wen die Calitz/Alemu-span met 7-5, 6-2.

In die meisiesafdeling wen Hayley Kidd vir Santie van der Walt met 6-2, 6-3 met Joanivia Bezuidenhout in die derde plek.

Karla Terblanche en Zoe Bronkhorst wen vir Riamaire Visagie en Ayanda Basson 6-7, 6-2, 10-7 in 'n titaniese stryd wat eers om 20:15 klaargemaak het.

“Ons kyk met trots terug na ? baie suksesvolle tennistoernooi. Dit is regtig vir ons lekker as ons spelersgetalle groei en goeie gehalte tennis gespeel word van so jong ouderdom af. Ons sien uit na die res van die tennisjaar,” se Karlien Kuhn van die Junior Tenniskomitee.

Die volgende NTA toernooi sal op 5 en 6 Maart in Windhoek plaasvind.

Alle spelers tussen die ouderdomme van 10 tot 18 is welkom om in te skryf. Vir enige verdere navrae kontak 081 444 9426 of ntajuniortennis@gmail.com.