Nasionale databasis kom vir toergidse

Registrasie sal toerismebedryf bevorder
Die databasis bied sleutelvoordele, soos om toergidse se blootstelling aan potensiële kliënte te verbeter.
Elvira Hattingh
Die Namibië Reis- en Toerismeforum het onlangs ’n nasionale databasis vir die registrasie van toergidse vir die plaaslike bedryf bekend gestel.

Die registrasie, met die ondersteuning van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme asook die Vereniging vir Ontluikende Toerisme-ondernemings (Etea), sal help met beter organisering van asook groter geleenthede binne die bedryf.

Volgens ’n mediaverklaring wat onlangs deur die forum uitgereik is, sal die registrasie sekere sleutelvoordele inhou, wat insluit dat toergidse se “sigbaarheid” en blootstelling aan potensiële kliënte opgeskerp word.

“Met ’n sentrale platform wat toeganklik aan die publiek is, kan kliënte maklik geregistreerde toergidse opsoek en bespreek, wat toergidse kan help om meer werk te vind,” lui die verklaring.

So ’n databasis verseker ook dat toeriste op groter veiligheid en beter gehalte kan reken.

“Deur van toergidse te vereis om te registreer en sekere vereistes na te kom, kan die databasis aan toeriste die versekering bied dat hul gidse gekwalifiseerd is en in staat is om vir hulle ’n ervaring van hoë gehalte te bied.

“Die databasis sal ook ’n meganisme aan toeriste bied om terugvoering oor hul ervaringe te gee, wat die beste toergidse kan bevorder en help om die bedryf in sy geheel te verbeter.

“Die databasis sal eindelik lei tot die erkenning en ook die regulering van toergidse, alhoewel die volgende stappe in verband hiermee deur die omgewingsministerie en ander owerhede gedoen sal word wanneer die databasis eers gevestig is.

“Dit sal uiteindelik help om die toerismebedryf te standaardiseer – en ook om dit meer professioneel te maak.

“Dit sal ook help met konsekwente dienslewering aan toeriste, wat hul vertroue in die bedryf sal verbeter en eindelik groei en ontwikkeling sal dryf,” is in die mediaverklaring gesê.

Alle toergidse word aangemoedig om by https://travel.na/registerguide/ te registreer. Diegene wat nie die vorm kan invul nie, kan hul besonderhede na guides@travel.na stuur, waarna dit op die databasis gelaai sal word.