Spel soos ’n baas

Laerskole in en rondom Windhoek het mekaar tydens die 11de De Bono-spelwedstryd die stryd aangesê.
Mariselle Stofberg
Mariselle Stofberg

Laserskool M.H. Greeff was onlangs die gasheer van die 11de en gewilde De Bono-spelwedstryd.

Ses skole het vanjaar deelgeneem, wat Laerskool Bloukrans, Laerskool Dordabis, Laerskool Windhoek Sentraal, Laerskool M.H. Greeff, Laerskool Tobias Hainyeko en Laerskool S.T. Barnabas insluit.

Emma Fernandes en Lorrainne Harupe, beide leerlinge Laerskool Windhoek Sentraal, het onderskeidelik eerste en tweede gekom. Harupe het streng voorbereiding vir die kompetisie ondergaan en kon die vrugte van haar harde werk pluk. “Ek het dit vreeslik geniet toe ons ná die tyd Spur toe kon gaan en natuurlik ook om my trofee wat ek gewen het, te ontvang. Dit laat my goed en spesiaal voel.”

Laerskool Windhoek Sentraal was die algehele wenner, met Laerskool M.H. Greeff in die tweede plek en Laerskool Tobias Hainyeko in die derde plek.

Me. Veziruapi Mupia, ’n onderwyser by Laerskool M.H. Greeff, sê ondanks die harde werk wat die reël van die wedstryd verg, is dit iets wat hulle as organiseerders baie geniet. “Dit is baie lekker as die mense, ná al die harde werk, sê hulle het die dag en kos wat voorberei is, terdeë geniet.”

Mupia beklemtoon die belangrikheid van wedstryde van hierdie aard vir jong kinders. “Hierdie wedstryde moedig kinders aan om meer te lees. Hoe meer hulle lees, hoe meer word hul woordeskat uitgebrei wat op die beurt ook meer kennis beteken. Ek voel alle kinders moet aan so iets blootgestel word.”

Shylo-Novel Vries, ’n leerling van Laerskool Bloukrans, neem al vir vier jaar aan die spelwedstryd deel. “Ek hou daarvan dat ek elke keer nuwe woorde kan leer en met kinders van ander skole kan gesels.”

Mupia moedig ouers aan om deel van die proses te word om hul kinders vir hierdie wedstryde voor te berei. “As onderwysers is ons net tydens skoolure betrokke, maar kinders spandeer die meeste van hulle tyd tuis. Sodra ouers saam met hulle kinders sit om voor te berei, help dit om van die ergste senuwees ontslae te raak.” ’n Beroep word ook gedoen op die ouers om deel van die dag te word. “Dit beteken so baie vir die leerlinge as hulle sien hulle ouers is ook hier om hulle te ondersteun en aan te moedig.”

Volgens me. Sosela Costa, een van die beoordelaars van die wedstryd, was die kompetisie streng onder die leerlinge gewees. “Die kinders is goed voorbereid, maar die senuwees maak dit soms moeilik.” Costa moedig leerlinge aan om geleenthede soos hierdie met al twee hande aan te gryp en aan te hou lees soveel as wat hulle kan.

Me. Zameka de Waal was verantwoordelik vir die lees van die woorde wat die leerlinge daarna moes spel. “Wedstryde soos hierdie leer kinders die regte manier om woorde uit te spreek, help hulle met die wyse waarop hulle praat en verbeter hulle skryfvermoë. Dit is wonderlik om te sien hoe die leerlinge die woorde kan visualiseer en dan spel.” De Waal hoop dat meer skole in die toekoms ook kan deelneem.