Suksesvolle markdag vir Lingua Internasionale Opleidingskollege

"Ons studente is geneig om meer geleenthede te kry in vergelyking met Unam (Universiteit van Namibië) en Nust (Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie) s’n.” - Leon Mettler, besturende direkteur, Lingua.
Michelline Nawatises
Michelline Nawatises





Die Lingua Internasionale Opleidingskollege het op 16 Mei 'n markdag by die kollege se perseel in Windhoek aangebied. Dié dag was gemik op studente wat in toerisme- en bemarkingsrigtings studeer. Die studente het verskillende stalletjies aangebied, wat braaivleis, koek, koeldrank, tradisionele sap en skoonheidsprodukte verkoop het. Douglas Munangwa, ’n bemarkingsdosent, het gesê die markdag het ten doel om teoretiese kennis in die praktyk toe te pas en om studente met entrepreneursvaardighede toe te rus. Die bemarkingshoof, Albert Makuvaza, het gesê die markdag is 'n jaarlikse geleentheid en dat dit vanjaar so na aan die werklikheid as moontlik gemaak is om studente in staat te stel om hul uitgawes ook aan die belastingstelsel te koppel. Dit stel hulle in staat om te ervaar hoe die mark in werklikheid funksioneer. "Ons leer vooraf die teoretiese aspekte van bemarking en bespreek vooraf watter produkte verkoop gaan word. Studente se aanbieding, voorbereiding en die produk self word geëvalueer," het Makuvaza gesê.

Hy het bygevoeg studente word opgelei om werkgewers te wees en nie werknemers nie. Dít om studente aan te moedig om selfstandig te wees en hulle sodoende op die korporatiewe wêreld voor te berei. Volgens Leon Mettler, Lingua se besturende direkteur, is werkloosheid in Namibië endemies, veral onder die jeug. Lingua akkommodeer ook studente wat nie aan die minimumvereistes voldoen het nie. Van Lingua se derdejaarstudente is permanent in diens van organisasies terwyl hulle hul internskap van ses maande doen. "Met markdag moedig ons studente aan om entrepreneurs te wees sodat die werkloosheidsyfer kan daal, want die werklikheid is dat nie almal wat gradueer, in diens geneem gaan word nie,” sê Mettler.

Studente was opgewonde oor die dag, want nie net kon hulle die resultate van hul harde werk bewonder nie, maar ook hul opbrengs hou. Toini Haipinge en haar medestudente het pannekoek, koek en kolwyntjies verkoop. Sy het genoem van die uitdagings wat haar groep beleef het, was min kliënte, en dit het hulle aanvanklik ontmoedig.