Dié is net die begin van Pro-Ed se geskiedenis!

Juannè Schlechter
Weereens bring Pro-Ed Akademie se eersterugbyspan die beker huis toe ...

Ons rugbyspelers het aan die begin van die rugbyseisoen hard begin oefen vir die ligas wat voorlê. Van wedstryd tot wedstryd waar ondersteuners in massas opgedaag het, het Pro-Ed se rugbyspelers die skool se naam hoog gehou.

Hulle het byna al hulle wedstryde met dubbel die hoeveelheid van hul opponente gewen. Hulle het uiteindelik deurgedring na die kwart-finaal, waar hulle hul harte uitgespeel het. Na ‘n tawwe wedstryd het hulle deurgedring na die semi-finaal wat in Windhoek plaasgevind het. Ons onderskeie hoofde kon ongelukkig nie die semi-finaal bywoon nie, maar die onderhoof van Pro-Ed Akademie, mnr. Henry McCarthy, het die spelers met dié woorde Windhoek toe gestuur: "Wen dié een sodat ons daar kan wees om na die finaal te kan kyk."

Nou ja, hulle het definitief hierdie woorde saam met hulle geneem en wen toe die semi-finaal. Soos verlede jaar en die jaar tevore het Pro-Ed se eerstespan weereens die beker in die B-liga verower.

Dirk van Zyl, die matrikulant wat vanjaar se kaptein was, sê: "Dit was ‘n eer om vir ‘n klein gedeelte van Pro-Ed se groot geskiedenis die leier te kon wees van die eerstespan en ek sal met graagte weer daardie verantwoordelikheid op my skouers neem."

Ons skoliere kon die band sien wat tussen die spelers bestaan in die finaal toe Pro-Ed ‘n paar sekondes voor die eindfluitjie blaas ‘n strafskop teen hulle gekry het. Daardie skop sou bepaal of hul die liga WEER sou wen of nie. Volgens die toeskouers was dit ‘n belewenis om te aanskou. Al die spelers op die rugbyveld het op hul knieë afgesak, hul koppe gebuig en begin bid. Die bal is geskop om die finale telling te bepaal. Daar was ‘n doodse stilte net voor die bal die paal tref, maar toe spring almal op en begin die oorwinning vier... Die beker is tuis!

Pro-Ed se naam is hoog gehou en daar word voorspel dat dié net die begin van Pro-Ed se geskiedenis is - dáár lê nog vele oorwinnings voor.